-deur Bob Eschliman

18 Mei  2017

Gelowiges het nie net die reg om hulle oortuigings vrylik te deel nie, maar die regering kan hulle nie dwing om in idees te verkondig wat strydig is met hulle eie oortuigings nie.

Dit is wat die appélhof van Kentucky beslis het in die saak van ‘n drukkery in Lexington wat geweier het om bestelling te druk met ʼn boodskap wat strydig is met sy Christelike oortuigings. Dit is die tweede keer dat Blaine Adamson, eienaar van Hands On Originals, sy regte teen die Lexington-Fayette Urban County Human Rights Commission verdedig het.

In 2012 het Adamson geweier om T-hemde te druk met ‘n boodskap wat die Lexington Pride Festival bemark – die Gay en Lesbian Services Organization (GLSO) bied die fees aan. Hoewel hy geweier het om die T-hemde te druk weens die boodskap daarop, het hy nogtans aangebied om die GLSO na ‘n ander drukkery te verwys wat die T-hemde vir hulle sou druk. Die GLSO het toe ‘n klag by die kommissie gelê.

In 2014 het die kommissie bepaal dat Adamson boodskappe móét druk wat strydig is met sy geloof wanneer kliënte dit vereis. Prokureurs met die Alliance Defending Freedom het in die hof teen die kommissie se bevel geappelleer, waarop die beslissing omgekeer is en Adamson se godsdiensvryheid bevestig is – maar dit was nie die einde van die stryd nie.

Die kommissie het die laerhof se beslissing na die appèlhof van Kentucky geneem. Dié hof het egter ook geen rede gevind om die kommissie se besluit te ondersteun nie. Die hoofregter, Joy A. Kramer, het bevind dat Adamson nie onwettig gediskrimineer het nie omdat daar geen bewyse is dat hy “enige individu die volle en gelyke gebruik van die goedere, dienste, fasiliteite, voorregte of voordele geweier het, wat aan almal gebied word, omdat die betrokke individu ‘n spesifieke seksuele oriëntasie of genderidentiteit het nie. ”

Regter Debra Hembree Lambert het in ‘n samevattende mening geskryf dat Hands On Originals beskerm word deur Kentucky se statutêre wet op godsdiensvryheid en dat Adamson die reg het om sy sakebedryf in ooreenstemming met sy ” godsdiensoortuigings” te bestuur.

Byskrif: Blaine Adamson (ADF photo)


Bron: charismanews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.