-deur Steve Warren

11 Februarie 2019

’n Regsfirma in Kanada beskuldig die regering se aannemingsagentskap van diskriminasie nadat ’n Christelike paartjie se aansoek om pleegouers te word, afgekeur is.

Tydens ’n onderhoud by die aannemingsagentskap het ’n maatskaplike werker die egpaar uitgevra oor hul godsdiensoortuigings, insluitend of hulle kerk nog “in sommige van die meer verouderde dele van die Bybel glo,” berig die Justice Centre of Constitutional Freedoms.

Die man met wie die onderhoud gevoer is , het geantwoord dat hulle kerk hou by die hele Bybel. Die maatskaplike werker het toe gesê dat haar seun gay is en dat verskeie kerke vir hom gesê het dat homoseksualiteit ’n sonde is.

Die man het verduidelik dat hoewel die Bybel verklaar homoseksuele gedrag is ’n “sonde”, hy glo dat alle mense na die beeld van God geskape is en met respek en waardigheid hanteer moet word. Hy het verder gesê dat hy en sy vrou volgens hulle oortuigings, enige kind in hul sorg onvoorwaardelik sal liefhê, respekteer en met deernis sal grootmaak, ongeag die kind se seksualiteit.

Aangesien hy egter nie die Bybel se waarheid wou ontken nie, was sy antwoord nie goed genoeg nie.

Ses maande later het die egpaar ’n brief ontvang waarin hulle meegedeel is dat hulle aansoek om pleegouers te word, onsuksesvol was. Die brief het gelui: “Ons is van mening dat die agentskap se beleid nie ooreenstem met u waardes en oortuigings nie, en daarom kan ons nie voortgaan en toestemming verleen vir u om pleegouers te wees nie.”

Die paartjie het die maatskaplike werker gekontak en gevra watter “waardes en oortuigings” hulle gediskwalifiseer het. Die maatskaplike werker het gesê die agentskap se “anti-onderdrukkende” beleid strydig is met die egpaar se siening oor homoseksualiteit.

Die Justice Centre dring daarop aan dat die agentskap die godsdiensdiskriminasie teen die egpaar staak. Die sentrum het ’n brief aan Simcoe Muskoka Child, Youth and Family Sevices gestuur wat die organisasie versoek om sy besluit om te keer.

Die egpaar se prokureur, John Carpay, het aan The Canadian Press gesê: “Die regering het geen reg om op grond van godsdiens te diskrimineer wanneer paartjies geëvalueer word nie.

“Dit is verkeerd om pleegouers af te keur op grond daarvan dat hulle Moslems, Jode of ’n evangeliese Christen is nie,” het hy verduidelik.


Artikelbron: www1.cbn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.