-deur World Watch Monitor

14 Mei 2018

Noord-Korea se leier wil bloot die internasionale gemeenskap paai, hy wil nie noodwendig vrede bewerkstellig nie, en dan praat ons nog nie van die vryheid van sy eie mense nie, beweer ’n Noord-Koreaanse ontsnapte uit Noord-Korea.

“Ware vrede moet gepaargaan met godsdiensvryheid, vryheid van uitdrukking van oortuiging en vryheid van spraak vir Noord-Koreaanse mense,” sê die voormalige burger van Noord-Korea, wat gemartel is deur amptenare van Kim Jong-un voordat hy ontsnap het. Hy woon nou in die Verenigde Koninkryk en dra onder die naam, John Choi, by tot ’n blog vir die Christelike liefdadigheidsorganisasie, Geopende Deure. “Die vredesproses moet die welsyn van al 80 miljoen Koreaanse inwoners prioritiseer,” het Choi in ’n onderhoud met World Watch Monitor gesê. “Dit moet die regte van die mense in Noord-Korea beskerm en ware vryheid en menseregte verseker.”

Dit is egter nie die soort vrede waarin Kim belangstel nie, het Choi gesê. Noord-Korea se leier is nie van plan om sy beheer oor die land te laat vaar nie, maar wil Vietnam na-aap – ’n kommunistiese land met ’n sosialistiese ekonomie.

“Hy het buitelandse beleggings nodig, daarom wil hy die internasionale gemeenskap paai,” het Choi gesê. Kim het sedert Januarie die olyftakkie uitgehou sodat hulle dink hy wil werklik vrede maak,“ het hy gesê “en die wêreld het daarvoor geval.”

Op 9 Mei het Amerikaanse president Donald Trump aangekondig dat Kim drie Amerikaners van Koreaanse afkoms vrygestel het, wat tussen een en twee jaar gevange gehou is. “Ek loof Kim Jong Un daarvoor,” het Trump gesê. Hy is besig om voor te berei vir sy ontmoeting met Kim in die nabye toekoms.

Choi neem die regime se leier se nuwe aanslag met ‘n knippie sout. “Ek lees in die Washington Post dat ons moet vergeet dat Kim Jung-un ’n diktator is en hom van nou af as ’n ‘internasionale rolspeler’ moet beskou. Dit was teleurstellend,” het hy gesê.

“In die 20ste eeu het ons Hitler se kampe en Mao se gulags gesien,” het Choi gesê. “In die 21ste eeu weet ons dat meer as 200 000 gevangenes in Noord-Korea se kampe aangehou word. En so lank Christene nie vrylik ’n Bybel mag besit nie, is daar geen sprake van vryheid nie.

“Baie Christene wat ly in Noord-Korea sal op pres. Trump staatmaak om nie te swyg oor godsdiensvervolging, vryheid van spraak, vryheid van uitdrukking en vryheid van beweging wanneer hy Kim Jong-un ontmoet nie,” voeg Choi by. “As hy swyg, sal dit beteken dat die Weste regtig nie omgee oor die teregstellings, gevangenisstraf, marteling en vervolging nie”.

Noord-Korea is nommer 1 op die Wêreldwaarnemingslys, Geopende Deure se lys wat die lande noem waar dit die moeilikste is om ’n Christen te wees. ’n Personeellid van Geopende Deure wat nou betrokke is by Noord-Korea, het aan World Watch Monitor gesê dat daar genoeg rede is om versigtig te wees oor Kim se onlangse stellings. Maar ’n toenemende aantal Christene in die land is tog rede om optimisties te wees.

“Dit is heel waarskynlik dat sanksies – wat lyk of dit nou werk – opgehef gaan word. Dit is goed vir die algemene bevolking, maar ook vir die leiers. Dit help hulle om aan bewind te bly,” het ’n bron van Geopende Deure gesê, wat weens veiligheidsredes anoniem wil bly.

“’n Vredesverdrag is ’n goeie stap in die regte rigting, maar dit lei nie outomaties tot hervorming nie en hervorming is wat Noord-Korea so desperaat nodig het. Eerstens ekonomiese hervorming: gee mense die geleentheid om geld te verdien,” het die bron gesê. “Die ekonomiese hervorming kan egter nie sonder politieke hervorming plaasvind nie. Dit is die tweede ding wat nodig is. Die mense verdien meer vryheid en minder korrupsie. Sodra daar meer vryheid is, kan die menseregtesituasie geleidelik verbeter. ”

Noord-Korea verbied enige vorm van godsdiens behalwe die aanbidding van die land se leier. Christene leef in konstante vrees om ‘uitgevang’ te word, waarvoor die straf tronkstraf, marteling en die dood kan wees.

Byskrif: Foto: Chung Sung-Jun / Getty Images

Bron: christianheadlines.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.