-deur Chris Mitchell

 

5 November 2018

Dit is dalk nie nóú die beste tyd om Saoedi-Arabië te besoek nie, maar ’n afvaardiging van Amerikaanse evangeliese leiers het gevoel dit is die moeite werd om die kans te waag. Hulle het met die omstrede kroonprins Mohammed Bin Salman en ander Saoedi-leiers vergader.

Die besoek volg op ’n storm wat losgebars het oor die dood van die joernalis, Jamal Khashoggi, maar die besoek is lank reeds beplan, voor die moord plaasgevind het.

“Daar is baie mense wat voel dit is die verkeerde tyd om nou na Saoedi-Arabië te gaan en met die leierskap te vergader,” het die skrywer, Joel Rosenberg, aan CBN News gesê. “Ek verstaan ​​dit, maar ek stem nie saam nie.”

Hoewel sensitief vir die omstredenheid van hulle besoek, voel die groep dat die geleentheid om Christene te help, van groter belang is.

“Ons is besorgd oor die Christene van die Arabiese Skiereiland en wil graag meer godsdiensvryheid sien, selfs dat Christelike kerke gebou mag word, daarom is dit vir ons belangrik om te kom,” het Rosenberg gesê.

“As mense vra: ‘Hoekom gaan julle? Hoekom ontmoet julle met die kroonprins?’ antwoord ek dat ’n Christen geroep is om ’n vredemaker te wees, ’n voorstander van vryheid om te aanbid, ’n voorstander van verdraagsaamheid en ’n vreedsame samelewing. My antwoord is: ‘Hoe kan Ek nie gaan nie?” het eerw. Johnnie Moore gesê.

Dit was die jongste in ’n reeks vergaderings met Soenni-Arabiese leiers, insluitend Jordanië se koning Abdullah II, Egiptiese president Abdel Fattah el-Sisi en UAD-kroonprins, sjeik Mohamed bin Zayed Al Nahyan. Die ontmoetings is deel van ’n langtermynplan.

“Ons is hier om langtermynverhoudings te bou en om ons broers en susters wat hier is, by te staan,” het die voormalige lid van die kongres, Michele Bachmann, gesê.

Rosenberg het Christene aangemoedig om te bid.

“Ons het geen illusies oor die uitdagings in Saoedi-Arabië nie, maar ek dink dit toon respek om te gaan luister na leiers in wie se hande die mag lê om die lewe beter te maak vir Christene en Moslems – moontlik ook vir Israel – en dié wat teen die gekke in Iran en die Moslem-broederskap is. Ek versoek mense om te bid. Bid vir die koning van Jordanië. Bid vir die kroonprins. Bid vir die mense van Saoedi-Arabië. Ek dink dit is die regte ding om te doen. ”


Bron: cbn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.