-deur Lukas ten Napel

9 Januarie 2019

“Ons hoef nie volkome met mekaar saam te stem om ’n verenigde land te wees nie, maar wel wanneer ons almal dieselfde burgerregte voorstaan en probeer om ingewikkelde situasies soos die muur saam aan te pak,” het Samuel Rodriquez, die president van die Hispanic Christian Leadership Conference gesê, berig Christian Today.

Rodriguez, van Spaanse afkoms, het verwys na die botsing tussen die Demokrate en Republikeine oor die finansiering van die grensmuur. President Donald Trump wil die muur op die grens tussen Amerika en Meksiko laat bou. Volgens Rodriquez moet die twee partye ’n middeweg vind.

Pres. Trump het gisteraand in ’n regstreekse televisietoespraak weer die oprigting van ’n muur bepleit. Hy het gesê dit is ’n “humanitêre krisis” en het herhaal dat hy $5,7 miljard (R79 miljard), nodig het om die onwettige immigrante uit te hou.

Volgens die leraar moet die Demokrate akkoord gaan met die $5,6 miljard wat die Amerikaanse president in die begroting ingesluit het om die muur te bou. Aan die ander kant sou hy graag wou sien dat die Republikeine meer aandag gee aan ’n deurslaggewende oplossing vir dié wat sedert hul kinderjare as ongeregistreerde burgers in Amerika woon – die sogenaamde ‘Dreamers’.

“Eerstens moet ons ophou om die immigrasieprobleem te beperk tot ’n debat oor ‘goed’ en ‘sleg’, en ‘ons’ teen ‘hulle’. “Ons hoef nie volkome met mekaar saam te stem om ’n verenigde land te wees nie, maar wel wanneer ons almal dieselfde burgerregte voorstaan en probeer om ingewikkelde situasies soos die muur saam aan te pak,” het Rodriguez gesê.

Die Amerikaanse regering is sedert 22 Desember gedeeltelik gesluit, wat beteken dat ’n deel van die staatsdiens nie operasioneel is nie. Dit is omdat die Demokrate nie die begroting goedgekeur het nie. Ongeveer 800 000 Amerikaanse staatsamptenare ontvang as gevolg van die situasie nie hulle salaris nie.


 

Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.