13 Maart 2019

Die Chinese polisie het onlangs 11 kinders, insluitende ’n baba wat twee maande oud is, in hegtenis geneem tydens ’n klopjag op ’n ondergrondse Protestantse kerkgemeenskap in Chengdu, berig AsiaNews. Die kinders se ouers is ook gevange geneem.

Die kinders moes die nag op ’n koue vloer deurbring sonder dat hulle enigiets te ete gehad het. Die voorganger van die Early Rain Covenant Church, Wang Yi, is reeds in Desember in hegtenis geneem. Dit is gevolg deur verskeie klopjagte tydens gebedsbyeenkomste.

Onlangs het SDOK (Stichting De Ondergrondse Kerk) aangekondig dat die aantal Christene wat in 2018 in China vir hul geloof vervolg is, van 223 200 tot 1 miljoen geregistreerde gevalle aangegroei het. Dat die regering meer en meer druk op Christene plaas, is te wyte aan die anti-Christelike agenda van president Xi Jingping.

Vyf duisend Christene is verlede jaar in hegtenis geneem, ’n toename van 35 persent in vergelyking met 2017. Uit hierdie groep van 5 000, is 500 Christene skuldig bevind. Die aantal Christene in China neem na skatting met meer as tien persent per jaar toe. In 1980 was daar ongeveer 3 miljoen Christene, in 2010 ongeveer 58 miljoen en nou ongeveer 97 miljoen (bronne: Purdue Universiteit, Pew Research).

Verlede jaar is aangekondig dat die Chinese regering ’n vyfjaarplan opgestel het om die Christendom meer met sosialisme te verenig. Hulle “herskryf” die Bybel om dit te kan doen. Die onderdrukking van godsdiens het baie huiskerke in China laat verbrokkel.


Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.