10 Februarie 2018
– deur CBN.com

“Ek kom nie om haat te verkondig nie, ek is hier om oor ʼn Verlosser te praat.” Franklin Graham veg terug teen die wat probeer om te verhoed dat hy Brittanje besoek om die Evangelie te verkondig.

Graham is van plan om in  September by die Lancashire Festival of Hope in Blackpool te praat, maar duisende mense trek te velde  teen hom en noem hom ‘n “haatspraak-prediker.” Volgens die petisie teen Graham is sy kritiek teen Islam, sy steun vir die Bybelse huwelik en sy steun vir die Amerikaanse president Donald Trump, rede genoeg om hom te  verbied om in die land sy boodskap te verkondig. Selfs parlementslede, insluitend die Arbeiders-LP, Gordon Marsden, het aan die BBC gesê dat Graham se oortuigings oor hierdie sake “onverenigbaar is met wat Jesus in die Bybel gesê het”. 

Ten spyte van die terugslag, het Graham aan Premier gesê hy kom na Brittanje vir een ​​ding: om die Evangelie te verkondig.

“Ek kom nie om haat te preek nie, ek is hier om te praat oor ‘n Verlosser – Jesus Christus wat ‘n verskil in ons lewens kan maak as ons ons geloof en vertroue in Hom stel,” het Graham gesê. “Ek dink nie ek was al ooit in ‘n land waar almal my ondersteun het nie – daar is altyd kerke of groepe wat nie van my teologie hou nie of omdat ons met hierdie groep of daardie groep geassosieer word.”

Graham het ‘n uitnodiging aan sy kritici gerig. “Ek kom nie om teen iemand te praat nie, ek is nie hier om teen Islam of teen gays te preek nie,” het hy gesê. “Ek wil die Moslems uitnooi om te kom, ek wil hê dat Christene moet kom, ek wil hê dat die gays moet kom en luister na God se boodskap. Dit is ‘n ope uitnodiging.”

Hoewel  Graham sê  hy respekteer die wat van sy standpunte verskil , het hy aangevoer dat selfs Jesus aanstoot gegee het met wat Hy gesê het. “Hy het baie mense laat aanstoot neem en Hy gee nog steeds vandag aanstoot wanneer  Hy sê:” Ek is die weg en Ek is die waarheid en Ek is die lig. En niemand kom na die Vader behalwe deur My nie,” het hy gesê. 

Graham glo dat die Verenigde Koninkryk die Evangelie nou meer as ooit nodig het.

Volgens ‘n onlangse British Social Attitudes-opname het meer as die helfte van die land se bevolking gesê hulle het geen godsdiensaffiliasie nie. Die opname sê 53% van alle volwassenes beskryf hulself as sonder godsdiensaffiliasies.

Angus Buchan het verlede jaar in Augustus sterk teenkanting ervaar, met petisies en veldtogte teen hom om Skotland te besoek. Hy is toe ook as ʼn haatspreek-prediker, vrouehater en as homofobies uitgekryt.


Article source: www.breakingchristiannews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.