10 September 2018

Die Verenigde Nasies waarsku oor katastrofiese gevolge vir burgerlikes in Sirië se Idlib-provinsie.

“Die konflik in Sirië het reeds verskriklike lyding beteken vir miljoene mense in Sirië wat onder uiterste omstandighede moet oorleef of gedwing is om uit hulle land te vlug,” het Olaf Skoog, die permanente verteenwoordiger van Swede aan die Verenigde Nasies, gewaarsku. “Ons is uiters bekommerd oor die militêre optrede deur die Siriese regime en Rusland in die noordweste van Sirië wat potensieel katastrofiese humanitêre gevolge vir burgerlikes kan inhou.” 

Inwoners van Sirië se Idlib-provinsie het Vrydag die strate ingevaar in protes teen die dreigende oorlog in die streek.

Vir weke het Siriese magte, gesteun deur Russiese, Iranse en Turkse vegters, die provinsie omring wat nou die laaste vestinge van die rebelle is.

Die VN-gesant vir Sirië sê daar is minstens 10 000 Al-Kaïda terroriste in Idlib, tesame met 70 000 ander vegters van verskeie Islamitiese terreurgroepe wat ongeveer 60 persent van die provinsie beheer.

Vir weke het Sirië se weermag pamflette versprei wat rebellemagte in Idlib aanmoedig om oor te gee.

Iran se president sê die geveg sal tot ’n einde kom sodra alle ekstremiste uit Idlib ontwortel is.

“Die stryd teen terrorisme in Idlib is ’n onvermydelike deel van die missie om vrede en stabiliteit na Sirië terug te bring,” het die Iranse president, Hassan Rouhani, aan verslaggewers gesê.

’n Russiese amptenaar het soortgelyke stellings gemaak. “Alle terroriste oor die hele gebied moet uitgewis word,” het die Russiese minister van buitelandse sake, Maria Zakharova, aan AFP gesê. 

Intussen het ’n woordvoerder van een van die rebellegroepe in Idlib aan Associated Press gesê dat die vegters gereed is vir die stryd.

“Ons het ons skanse versterk, ons het ons voorberei vir lugaanvalle, ” het Naji Moustafa, ’n woordvoerder vir die Nasionale Front vir Bevryding, gesê.

Sirië, tesame met Rusland en Iran, het die afgelope twee jaar ’n veldtog gevoer om die grondgebied van die rebelle terug te wen. Idlib is die finale vesting en die val van die stad sal die einde van Sirië se wrede burgeroorlog beteken.

Rouhani en die leiers van Turkye en Iran het Vrydag in Teheran vergader om te bespreek hoe om burgerlike sterftes te beperk.

“Enige aanval op Idlib sal in ’n ramp ontaard, dit sal ’n bloedbad en baie groot humanitêre tragedie veroorsaak,” het die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, gesê. “Ons wil nie hê Idlib moet ’n bloedbad wees nie.”

Turkye se rol in Idlib is ingewikkeld. Vir ’n hele paar jaar het die Turkse regime in Ankara Siriese rebelle ondersteun wat teen Assad veg. Nou het die president van Turkye vir ’n wapenstilstand gevra omdat hy vrees dat ’n groot militêre offensief miljoene Siriese vlugteling oor die Turkse grens sal laat stroom.

“Turkye het reeds 3,5 miljoen vlugtelinge (uit Sirië). Die bevolking van Idlib is 3,5 miljoen. Turkye kan nie nog 3,5 miljoen mense huisves nie,” het hy bygevoeg.

Byna die helfte van Idlib se inwoners is reeds vlugtelinge uit ander dele van Sirië.

Lees die volledige berig by www1.cbn.com


Deur George Thomas
Bron: www1.cbn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.