15 Februarie 2018
– deur Leah MarieAnn Klett / Christian Post

Die evangelis Billy Graham het Christene gewaarsku om nie voorwerpe te koop wat glo  “geestelike genesende” magte besit nie, aangesien sulke dinge – ongeag hoe onskuldig hulle lyk – “demonies” is.

Die 99-jarige stigter van die Billy Graham Evangelistic Association  het gereageer op ‘n leser se vraag of  “gelukbringers” regtig ‘n invloed op die welstand van gebruikers kan hê.

Die leser het geskryf: “Ek ly aan artritis en het ‘n advertensie gesien vir ‘n vergulde gelukbringer wat my glo kan genees. Die advertensie sê ‘n geestelike geneser het dit geseën en dat dit spesiale magiese genesende kragte het. Kan ek dit probeer? ” 

Graham het begin deur die leser aan te raai om nie sy geld op so iets te mors of op enigiets anders met die aanspraak dat dit magiese magte besit nie.

Die evangelis het opgemerk dat die Bybel ons vermaan om enige voorwerp met “magiese kragte” te vermy, asook enigiets wat verbind word met iemand wat aanspraak maak op magiese kragte.

“Dit sal ons net verarm en dit kan ons in kontak bring met geestelike magte wat nie van God is nie, maar demoniese en vyande van God is,” het hy gewaarsku. “Toe die towenaars in Efese Christene geword het, het hulle dadelik hul magiese gebruike laat vaar en hul magiese gelukbringers vernietig (sien Handelinge 19:19).”

Graham het die leser aangemoedig om liewer sy hoop in God te plaas.

Volgens ‘n Gallup-opname van 2005 oor paranormale oortuigings glo meer as die helfte Amerikaners (55 persent) in psigiese of geestelike genesing of die krag van die menslike verstand om die liggaam te genees. 

Graham waarsku gereeld teen die gevare van heksery en okkultiese praktyke. Hy sê dit is “direk teen God en Sy wil vir ons lewens.”

Die hoofrede vir God se teenkanting teen okkultiese praktyke, is omdat hulle hul oorsprong het in geestelike kragte wat nie van God kom nie, maar van die duiwel.

“Die Bybel waarsku ons herhaaldelik om niks te doen te hê met iets wat die deur tot demoniese invloede oor ons kan oopmaak nie,” het hy gesê. “Een van die maniere waarop hulle toegang tot ons lewens kry, is deur okkultiese praktyke – selfs die wat amusant of onskadelik lyk,” het hy gesê.

“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” – Efesiërs 6:12


Bron: www.christianpost.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.