-deur Tiffany Jothen

8 November 2017

Billy Graham het Dinsdag 7 November 99 geword en het driekwart van sy lewe gewy aan die verkondiging van die Evangelie.

“As ‘n gesin is ons net so dankbaar dat hy nog by ons is,” het Franklin Graham gesê. “Sy verstand is helder, maar hy is deesdae stiller. Hy kan nie meer goed sien of hoor nie, maar sy gesondheid is goed … Ek weet my pa is dankbaar vir al die gebede en verjaarsdagwense vir hom tydens hierdie spesiale geleentheid. Met my pa wat sy 100ste jaar betree, gaan in die komende jaar die Here eer vir wat Hy deur my pa gedoen het en betekenisvolle gebeure van sy lewe in die agt dekades van bediening gedenk,” het Franklin Graham, Billy Graham se seun, gesê.

Elke maand in aanleiding tot mnr. Graham se honderdste verjaardag, sal ’n belangrike gebeurtenis in sy bediening beklemtoon word, met spesiale inhoud wat op BillyGraham.org en in Decision Magazine gepubliseer sal word.

“My pa wil altyd hê dat die fokus op die Here Jesus Christus sal wees, en nie op hom nie. Ons sal mense dus herinner aan die wonderlike maniere waarop God in mense se lewens gewerk het deur Billy Graham se bediening.” het Franklin gesê.

“Ek is ‘n gewone prediker”

Toe Billy Graham 15 was, het sy pa en ander sakemanne in hulle tuisdorp Charlotte, Noord-Carolina, op die Grahams se melkplaas saamgekom om vir herlewing in hul stad te bid – spesifiek dat God iemand uit Charlotte sou oprig om die evangelie wêreldwyd te versprei. Dit was eers later daardie jaar, 1934, dat Billy Graham sy lewe aan Jesus Christus toegewy het nadat hy die evangelis Mordecai Ham gehoor het.

Teen die tyd dat hy gematrikuleer het, het die jong Billy Graham in sy jaarboek geskryf: “My hoop en planne vir die toekoms is om God te dien en Sy wil te doen as ‘n prediker van die Evangelie.”

Dekades later het mnr. Graham daardie Evangelie aan meer mense in gehore verkondig as enigiemand anders in die geskiedenis – amper 215 miljoen mense in meer as 185 lande en gebiede. Hy bestee nou die meeste van sy dae by sy huis in die berge van Montreat, Noord-Carolina, maar die invloed van sy bediening bereik steeds miljoene mense deur die uitreikaksies van die Billy Graham Evangelistic Association (BGEA).

“Ek is nie ‘n groot prediker nie, en ek maak ook nie aanspraak daarop dat ek ‘n groot prediker sal wees nie,” het hy eenkeer gesê. “Ek is ‘n gewone prediker wat net die Evangelie na die beste van my vermoë verkondig. As my lewe enigiets bereik het,  is dit alles te danke aan God – Hy moet die eer daarvoor kry,” het hy gesê.

Meer as ses dekades van bediening

In 1950 is BGEA gestig om die evangelistiese roeping van mnr. Graham te ondersteun en uit te brei. Dit is nou ‘n wêreldwye organisasie wat alle effektiewe middele gebruik om ander van Jesus te vertel.

Ons dank God vir al die maniere waarop hy mnr. Graham die afgelope 99 jaar gelei het en bid vir Sy leiding in hierdie bediening in die komende jare.

Byskrif: (Foto: Billy Graham / via Gospel Herald)


Bron: breakingchristiannews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.