-deur Will Maule | Hello Christian.com

16 November 2017

Iets buitengewoon is besig om in Zimbabwe plaas te vind: die weermag het oorgeneem en president Robert Mugabe en sy vrou onder huisarres geplaas.

Die troepe dring daarop aan dat hulle misdadigers teiken en probeer om jarelange korrupsie in die regering uit te roei. Baie mense glo Mugabe is verantwoordelik vir die land se ekonomiese ondergang omdat hy noodsaaklike landboubesighede en grond in beslag geneem het, die geld vir sy eie wins gebruik het en die plase aan kollegas gegee het. Mugabe was aan die stuur van ‘n  onderdrukkende regime wat dié wat teen hom in opstand kom, in hegtenis neem, aanrand en selfs doodmaak.

Nou lyk dit asof die weermag gesê het “genoeg is genoeg”.  Die militêre bevelvoerders dring egter daarop aan dat hulle Mugabe weer aan bewind sal plaas sodra hulle hulle doelwit bereik het. “Ons teiken net misdadigers rondom [die president] wat misdade pleeg … wat sosiale en ekonomiese lyding in die land veroorsaak,” het genl.maj. Moyo tydens sy verklaring gesê wat oor die Zimbabwiese staats-televisie uitgesaai is. “Sodra ons ons missie bereik het, verwag ons dat die situasie na normaal sal terugkeer.”

Christen-aktivis en die man wat Mugabe gedagvaar het oor die onwettige beslaglegging van sy Zimbabwiese plaas, Ben Freeth, het op Facebook berig oor wat in die hoofstad Harare gebeur.

“Ek was nou net by die lughawe, dit wemel van soldate wat elke voertuig stop. Ek is nou in die middel van Harare, daar is weermagvoertuie buite die parlement …” lui dit op die Mike Campbell-stigting se Facebook-blad. “Die polisie is nêrens te sien nie. Die hele wêreld se pers het vandag op Zimbabwe toegesak … Daar is niks gesien of gehoor van Mugabe of sy vrou, Grace – wat haar beywer het om haar man as president op te volg nie …” het Freeth aan Christian Today gesê.

“Dit blyk dat Mugabe geneutraliseer is. Dit is onseker of hulle hom as ‘n skynhoof sal aanhou omdat enige regime wat deur die weermag ingestel word, ongrondwetlik sal wees.”

“Ons sal nou weer ‘n goeie lewe hê; ons sien uit na Kersfees as gevolg van wat gebeur het,” het ’n vrou aan BBC News gesê.

“Ek wil die generaal bedank dat hy hierdie tiran verwyder het,” het ‘n man gesê. “Hy het die land geregeer asof dit aan sy familie behoort.”

Kyk hier na die weermag se verklaring


Bron: hellochristian.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.