-deur Esté Meyer Jansen

18 Mei 2017

Sosiale media het die wêreld oneindig verryk, maar dit kan ’n gevaarlike plek wees as jy sommer net kop eerste in die onbekende induik.

Gielie Hoffman, geestesbreier en leierskapskonsultant, het verlede week tydens die maandelikse Cool Chats-ouerskapsforum in Raslouw, Centurion, met ouers gesels oor hoe om hulle kinders voor te berei vir die wêreld van Facebook, WhatsApp en Instagram.

“Ons is eintlik almal maar nog in ons kinderskoene as dit kom by sosiale media, en die handboek vir die gebruik van hierdie toepe is ongelukkig nog nie geskryf nie. Ek dink egter ouers kan die beste rolmodel vir hul kinders wees as dit by die gebruik van sosiale media kom. Vra jouself wat deel jý op sosiale media, met wie is jy vriende en wat doen jy veral in ’n oomblik van woede?” het Hoffman gesê.

Hy het ouers aangemoedig om deurentyd met hulle kinders te gesels en ʼn ooreenkoms vas te stel oor kinders se aanvaarbare gebruik van sosiale media.

Die “hoekom” van sosiale media

Hofmann sê dit is belangrik dat ouers nadink oor hoekom hulle en hul kinders op sosiale media is en wat hulle van hulself daarop wil wys. Hy meen egter daar is ʼn paar goed wat ononderhandelbaar is wanneer ouers en kinders sosiale media gebruik:

    • Dink mooi oor waar jy jou selfoonnommer en fisieke adres beskikbaar stel.
    • Wie gee jy toegang tot jou profiel en hoe streng is jou privaatstellings op sosiale media? Hoe strenger hoe beter.
    • Reguleer jou vriendekring. Met kinders is die goue reël dat jy net ʼn “friend request” op sosiale media aanvaar as jy die persoon reeds in die regte lewe ken.
    • Sit maar eerder jou “geo-location” af wat aandui waar ʼn foto geneem is of waar jy jouself tans bevind.
    • Leer jou kinders om nie hul wagwoorde en intekenbesonderhede met enige iemand te deel nie.
    • Gebruik maar eerder jou eie naam en van vir ’n gebruikersprofiel. Vreemde gebruikersname kan suggestief wees en die verkeerde mense na jou kind lok.
    • Besef dat “likes” ʼn emosionele kwessie kan word waar kinders amper verslaaf kan raak aan die hoeveelheid “likes” wat hulle op sosiale media ontvang – gesels met jou kind hieroor.

Slimfone en tablette vir tjokkers

Op ʼn vraag van ʼn ouer oor wanneer ʼn kind ʼn slimfoon of tablet mag kry, het Hoffmann aanbeveel dat ouers eers moet nadink oor hoekom hulle dit vir hul kind wil gee.

“Is dit omdat jou kind toegang tot jou moet hê, of toegang tot sy sosiale vriendekring of die internet? Bill Gates het gesê sy kinders het nie hierdie soort toestelle voor 14-jarige ouderdom ontvang nie omdat hulle toegang tot die internet by die huis het.”

Byskrif: Foto: Mindmake.com


Lees die uitstekende artikel in sy geheel by maroelamedia.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.