-deur Tzippe Barrow / CBN News

4 Julie 2018

Australië sal nie meer direkte geldelike steun aan die Palestynse Owerheid bied nie, weens kommer dat die fondse gebruik kan word om gevonnisde terroriste en hul gesinne te ondersteun as vergoeding vir terreurdade of wat nou bekend staan ​​as “pay to slay”.

Die Australiese minister van buitelandse sake, Julie Bishop, het gesê sy het in Mei ’n brief aan die Palestynse Owerheid gerig en gevra vir hulle versekering dat Australië se aansienlike bydrae (die ekwivalent van $7,5 miljoen) nie gebruik word om Palestyne te vergoed wat skuldig bevind is aan politieke geweld nie

Bishop het dié soort steun beskryf as “ ’n afwyking van Australië se waardes,” en gesê dit “ondermyn die vooruitsigte vir sinvolle vrede tussen Israel en die Palestyne.”

Intussen het die Knesset in Israel Maandag die “pay to slay”-wetsontwerp aanvaar. Die wet stel die regering in staat om die Palestynse Owerheid se belastinginkomste te weerhou totdat dit ophou om maandelikse salarisse aan veroordeelde terroriste en hul gesinne te betaal. Dit kom neer op die bedrag van $328 miljoen wat hierdie jaar weerhou sal word.

In Desember het die Amerikaanse Kongres die Taylor Force Act aanvaar, wat ook fondse aan die Palestynse Owerheid gestaak het weens die volgehoue steun aan terroriste. Die wetsontwerp is vernoem na Taylor Force, ’n Amerikaanse weermagveteraan wat in 2016 tydens ’n besoek aan Israel deur ’n Palestynse terroris in Tel Aviv vermoor is.

Byskrif: Australiese minister van buitelandse sake, Julie Bishop saam met die Israeliese premier Benjamin Netanyahu in Februarie 2017 / GPO / via CBN Nuus)


Bron: breakingchristiannews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.