-deur Dick van den Bos

5 November 2018

Verlede Woensdag is Asia Bibi vrygespreek. Sy het in 2010 die doodsvonnis ontvang vir laster. Die hooggeregshof van Pakistan het haar egter vrygespreek. Jan Dirk van Nifterik van Hulp Vervolgde Christenen (HVC) volg die saak al vir ’n geruime tyd. Die organisasie is wêreldwyd aktief in plekke waar Christene verdrukking, armoede en verwerping ervaar as gevolg van hulle geloof.

“Ons wag al vir meer as nege jaar hiervoor,” sê Van Nifterik. “Dit is fantastiese nuus, ook vir Asia Bibi. Maar ongelukkig het dit nou gelei tot protes en betogings in Pakistan. Christene moet noodgedwonge wegkruip, want die woede is teen hulle gerig. Dit is nou baie gevaarlik vir Christene. Baie Moslems beskou dit as ’n groot belediging vir Islam dat sy vrygespreek is.”

“Ons advokaat het homself uitstekend van sy taak gekwyt,” sê van Nifterik egter. HVC het deurentyd kontak gehad met Bibi se advokaat. Die organisasie het hom betaal om die saak te behartig en het ook vir sy beskerming betaal. HVC het ook Bibi se man gehelp om hulle kinders te onderhou. Die organisasie het ook die afgelope jaar met petisies en demonstrasies probeer om hierdie saak in die kollig te hou.

“Ons hoop dat hierdie hofbeslissing ’n invloed sal hê op ander gevalle. Ons taktiek was om dadelik ’n advokaat aan te stel. So kan jy druk op die saak plaas en voorkom dat bedrog gepleeg word. Dit is ook uiters belangrik dat regsgedinge soos hierdie behoorlik voorberei word. HVC ondersteun ’n aantal soortgelyke gevalle en ons hoop om hierdie mense ook vrygelaat te kry.”


Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.