-deur Naila Inayat

4 Februarie 2019

Pakistan se hoë hof het ’n petisie deur Islamiste van die hand gewys om Asia Bibi, ’n Christen-vrou wat voorheen skuldig bevind is aan godslastering, se vrylating om te keer. Sy is nou vry om die land te verlaat en haar by haar dogters in Kanada aan te sluit.

Hoewel Bibi se vryspraak ’n oorwinning vir godsdiensminderhede in die Moslem-meerderheidsland is, veral vir Christene, het die omkering van haar doodstraf tot landwye protes deur radikale Islamitiese partye gelei onder leiding van Khadim Hussain Rizvi, leier van die Tehreek-e-Labbaik-groep.

Die party het gevra dat die hof Bibi se vryspraak moet omkeer en haar die doodstraf gee.

Te midde van doodsdreigemente aan die regters, oproepe tot muitery teen die weermaghoof en gewelddadige protes, het die regering verhoed dat Bibi die land verlaat totdat die hof ’ beslissing gegee het oor ’n petisie om die saak te hersien.

Daar was hierdie keer geen onmiddellike massa-protesoptogte deur Islamiste nadat die hof sy beslissing aangekondig het nie.

Baie mense in Pakistan het die verwerping van die petisie as ’n oorwinning vir menseregte verwelkom.

Onder die Christelike gemeenskap, wat sowat 2 persent van Pakistan se 204 miljoen mense uitmaak, was daar ’n tasbare gevoel van verligting.

“Vandag is ’n vreugdevolle dag,” het Wilson Chowdhry, voorsitter van die Britse Pakistanse Christelike Vereniging, gesê. “Bibi is onskuldig en dit is ’n skande dat dit bykans tien jaar geneem het om haar vry te laat. Haar vryheid is egter ’n reuse-stap in regte rigting vir die bevordering van gelykheid en geregtigheid in Pakistan.

“Meer as 40 ander slagoffers van godslasteraanklagtes sit in Pakistanse gevangenisse. Byna 50 persent van hulle is Christene,” het Chowdhry gesê. “Pakistan se drakoniese godslasterwette moet herroep en afgeskaf word.”

Foto: Reuters / Eva Plevier


Bron: charismanews.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.