-deur Maroela Media

7 Julie 2017

Die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) het Dinsdag sy volle registrasie dokumentasie van die departement van hoër onderwys en opleiding ontvang. Die instelling beskou dit as ʼn reusestap in die proses om Aros as ten volle private Christelike hoëronderwysinstelling in Suid-Afrika en internasionaal te vestig.

Enige private geregistreerde hoëronderwysinstelling verkry eers voorwaardelike registrasiestatus wat slegs deur ’n proses van voldoening aan al die voorwaardes en vereistes wat deur die raad op hoër onderwys (RHO/CHE) en die departement van hoër onderwys en opleiding (DHET) gestel word, omgeskakel kan word na volle registrasie. Dit bied dus aan so ’n instelling onvoorwaardelike goedkeuring om geakkrediteerde grade en ander kwalifikasies aan te bied.

Volgens dr. Morné Diedericks, Aros se akademiese hoof, ondersteun Aros se voldoening aan hierdie minimum vereistes dié instelling se strategie om wêreldklas navorsing en programontwikkeling verder uit te brei.

“Die Aros-bestuur se skakeltoer vroeër vanjaar na verskeie internasionale universiteite is juis onderneem om Aros internasionaal te meet, en ook seker te maak dat Aros die beste internasionale praktyke toepas”, aldus Diedericks.

Niclaas Roets, Aros se uitvoerende hoof, beskou hierdie historiese gebeurtenis as ʼn belangrike geleentheid. “Die volle registrasie van Aros as volwaardige private hoëronderwysinstelling bied aan Aros die geleentheid om met sy unieke opleidingsmodel ook goedbegronde, karaktervaste vakspesialiste in onderwys en ander velde op te lei, en so die Suid-Afrikaanse gemeenskap nog beter te dien”, sê Roets.

Hierdie proses is volstoom aan die gang met twee verdere kwalifikasies in die onderwysveld wat reeds vroeër vanjaar by die raad op hoër onderwys en die departement van hoër onderwys en opleiding ingedien is. Die senior VVO-onderwysgraad sal aan gegradueerdes van hierdie kwalifikasie toelating bied om by hoërskole vir onderwysposte vanaf graad 8 tot 12 aansoek te doen. Die nagraadse gevorderde onderwys sertifikaat (NGOS) is ʼn NQF 8-kwalifikasie wat aan reeds gegradueerdes uit ander rigtings toegang tot onderwys bied. Terugvoer oor albei kwalifikasies word vroeg in 2018 verwag.

Byskrif: Aros-opedag (13 Mei 2017) Foto: Aros

http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/aros-verkry-volle-registrasie/

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.