Deur Hendriëlle de Groot

11 September 2018

“Argeoloë glo hulle het die plek gevind waar Jesus sy eerste wonderwerk gedoen het,” skryf Faithwire.

“Volgens Johannes 2 het Jesus die wonderwerk gedoen tydens ’n troue in Kana. Toe die wyn opraak tydens die viering, het die Seun van God die water in wyn verander, wat volgens die Bybelse verslag sy eerste wonderwerk was.

“Op grond van nuwe navorsing is argeoloë nou daarvan oortuig dat die werklike ligging van die wonderwerk in Kana, eintlik op ’n heuwel agt kilometer verder noord van die plek af is wat voorheen aangedui is as die plek waar die wonderwerk plaasgevind het, berig The Daily Mail.

Dr. Tom McCollough, wat die opgrawings gelei het, het gesê daar is drie ander potensiële terreine vir die Bybelse Kana “maar niemand het die oortuigende bewyse hiervoor nie. Die pelgrimstekste wat ons uit hierdie tydperk ontdek het en wat beskryf wat pelgrims gedoen het, stem goed ooreen met wat ons as ’n aanbiddingskompleks ontdek het,” verduidelik hy.

McCollough het voorts gesê baie van die bewyse wat hom oortuig het dat dit die ware plek is, kom uit Flavius ​​Josephus, die Joodse historikus, se geskrifte uit die eerste eeu. Die argeoloog het gesê Josephus se werk het verwysing na Kana bevat “wat geografies aansluit by die ligging van Khirbet Qana.”

“Die verwysing na Kana in Josephus se werk, die Nuwe Testament en in die Joodse tekste, beweer dat die dorp ’n Joodse dorp was, naby die See van Galilea en in die streek van Galilea,” het hy bygevoeg. “Khirbet Qana voldoen aan al hierdie kriteria.”

Die ontdekking kan ook wesenlike gevolge hê vir die Christendom, aldus McCollough, wat gesê het dat die ligging van die dorp, ’n sterk argument kan wees vir die egtheid van die Evangelie van Johannes.


Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.