-deur André Viljoen | Gateway News

 5 Desember 2017

Angus Buchan was een van vier “legendes” wat Woensdagaand tydens die gesogte SA Men of the Year-toekennings by Carnival City Casino in Johannesburg vereer is – en hy is oorweldig deur die liefde vir Jesus wat hy by die gebeurtenis ervaar het.

“Ek het nog nooit ‘n skare by ‘n sekulêre geleentheid so openlik oor Jesus Christus hoor getuig nie – nêrens in die wêreld nie,” het die evangelis in ’n onderhoud gesê en beklemtoon dat hy bevoorreg was om na baie dele van die wêreld te kon reis.

“Vandat ons ingestap het totdat ons om middernag uitgestap het, het mense net oor een Persoon gepraat – Jesus Christus,” het Buchan van die formele geleentheid gesê wat deur ’n paar duisend mense bygewoon is.

Buchan, tesame met digter en skrywer, dr. Don Mattera; krieketadministrateur, dr. Ali Bacher, en die leraar, dr. S.D. Gumbi het toekennings ontvang. Hulle het erkenning ontvang vir hulle invloed as rolmodelle vir mans.

Buchan het gesê dat hulle na die formele banket na die ouditorium gegaan het waar die seremoniemeester ’n pastoor gevra het om verrigtinge met gebed te open.

“Ek het gedink dít is goed, maar toe gaan hy voort om ook te preek – met uitnodiging wat mense die geleentheid gegee het om Jesus Christus as Here en Verlosser te aanvaar,” vertel Buchan. Hy het gesê die program het ook dans en sang ingesluit – en die sanger het net Christelike liedjies gesing.

Toe het die LUR van Maatskaplike Ontwikkeling, Nandi Mayathula-Khoza, opgestaan ​​en “eer aan God gegee”, waarna die vier legendes elkeen twee minute gegun is om die gehoor toe te spreek.

“Die ander drie was almal dokters – en vir die eerste keer in my lewe is ek bekendgestel as ‘dokter’, maar ek is nie ‘n dokter nie, ek is Oom Angus,” het hy gelag.

Oom Angus het die geleentheid gebruik (kyk na die video hieronder) om mans te vermaan om goeie vaders en rolmodelle te wees. Hy het gesê ’n uitstaande kenmerk van die aand was die liefde en aanvaarding wat hy van almal ontvang het. Dit was oorweldigend,” het hy gesê. “Mense is optimisties en opgewonde oor ons land en die toekoms,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê daar is ’n nuwe deursigtigheid in die land, met die sake van Eskom en ander wat aan die lig kom. “En ek glo dit is as gevolg van ’n miljoen mense wat op 22 April gebid het dat God se wil sal geskied. Alles kom aan die lig. Daar is niks meer in die donker nie en dit is opwindend om te sien hoe die pad vorentoe gaan lyk. Ek is baie optimisties oor ons land,” het hy gesê.

Buchan het onlangs by die eerste Mighty Crusade by De Deur, suid van Johannesburg opgetree en ’n spreekbeurt in die parlement gehad. Hy het gesê dat hy vir jare al bid vir ’n geleentheid om die massas in Suid-Afrika te bereik, en nou gebeur dit.

http://gatewaynews.co.za/angus-buchan-amazed-at-love-for-jesus-at-sa-men-of-year-awards-event/

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.