-deur Patrick Good

15 Maart 2019

Die biskop van Loughborough was 13 jaar oud toe haar broer vermoor is omdat hy ’n Christen is. Al was sy gebore en getoë in Iran, moes sy in 1980 noodgedwonge vlug weens haar geloof. Dit is ’n storie wat vir baie Iranse gelowiges al te bekend is, berig 222 ministries.

Guli Francis-Dehqani, wat nou as biskop aangestel is, lei die groeiende groep Iraniërs wat tuis voel in die Anglikaanse Kerk. Dit het onlangs gelei tot ’n historiese kerkdiens by die Wakefield-katedraal in Yorkshire. Vir die eerste keer is die nagmaal in Farsi gehou.

“Daar is talle Iraniërs wat hulle laat doop en by die kerk wil aansluit. Dit is wonderlik en ons verwelkom dit. Ek het hierheen gevlug toe die rewolusie in Iran uitgebreek het. Ek het aanvaar dat ek spoedig weer sal kan terugkeer, maar dit was op die ou end onmoontlik. Vandag is ’n baie emosionele dag vir my; dit is die eerste keer dat ek toegelaat word om ’n diens in Farsi te lei,” het Bishop Guli gesê.

“In Iran kon ons nie ons geloof openlik bely nie. Ons moes dit in die geheim doen. As jy daar tot bekering kom, kan jy in hegtenis geneem word,” sê Sara Chinaveh (26) wat in 2015 in Shiraz, haar tuisdorp, tot bekering gekom het. Sy moes vlug toe die kerk wat sy in die geheim bygewoon het, deur die regering ontdek is.

Biskop Toby Howarth, wat geskool is in die Islamitiese leer en wat die diens bygewoon het, glo dat die geskiedenis van die Iranse volk die rede is waarom baie van hulle vrymoedig voel om die kerk te besoek: “Die Perse het ’n lang en ryke geskiedenis. Hulle is baie trots daarop en dit beteken dat jy sterk Christene kan teëkom in ’n Islamitiese land. Jy sien hierdie tendens wêreldwyd. Baie van hulle bekeer hulle tot die Christendom.”


Bron: cip.nl

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.