-deur Carly Hoilman

19 Maart 2019

’n Hoërskoolleerling van Ohio is geskors nadat sy Bybelversies teen die mure en kleedkamers opgeplak het in reaksie op ’n paar LGBT-“pride”-vlae wat in die gange opgeplak is. In ’n video wat verlede Vrydag op Facebook geplaas is, beweer Gabby Helsinger dat sy gestraf word omdat sy glo die skool se Gay-Straight Alliance-klub (GSA) “teiken”.

“Toe ek Donderdag by die skool kom, sien ek dat daar baie “pride”-vlae en plakkate by die skool opgeplak is,” vertel Gabby in die video. “Ek wou ’n paar Bybelversies neerskryf en ook oral in die skool teen die mure plak. Ek het hulle oral opgeplak.

“Ek het net van middagete af teruggekom … toe sien ek hoe die onderwysers die versies afhaal. Die volgende dag is ek na die kantoor ontbied, waar ek ’n brief ontvang het wat sê ek is geskors omdat ek ander te na gekom het, oneerbiedig en onbeskof is en omdat ek die Bybelversies opgeplak het om die “GSA-organisasie te teiken”, het sy verduidelik. “Ek het nie geweet wat die GSA-organisasie is of wat GSA beteken nie.”

Gabby glo die werklike rede waarom sy geskors is, is omdat haar skool die LGBT-ideologie bevoordeel bo ’n Christelike oortuiging. Sy is in die hoof se kantoor gevra waarom sy die Bybelversies opgeplak het.

“Ek het gesê: ‘Omdat ek die Woord van God wou verkondig.’” Sy het nie geweet dat sy toestemming moes kry nie, want baie mense doen dit sonder om toestemming te vra.

Gabby het die skoolhoof gevra waarom enige materiaal wat God of Jesus noem, “dadelik” verwyder word, terwyl plakkate wat met “gay pride” te doen het, oral in die skool opgeplak is sonder enige nagevolge.

Faithwire het die superintendent van Lebanon City School, Todd Yohey, gevra om die amptelike beleid oor godsdiensoortuigings te verduidelik.

Hoewel administrateurs nie toegelaat word om spesifieke dissiplinêre optrede teen individuele studente te bespreek nie, het Yohey bevestig dat die skool se gedragskode nie enigeen verbied om godsdiensverse of -plakkate op die skoolgronde te vertoon nie. Hy het ook bevestig dat godsdiensklubs, net soos die GSA, gedurende skoolure mag bymekaar kom en hulle groep adverteer.

Die vraag is dus, waarom is Gabby geskors? As haar getuienis waar is, en dat sy nie die GSA-organisasie geteiken het soos wat die hoof, Scott Butler, na bewering gesê het nie, is die enigste oortreding wat sy begaan het, om nie vooraf toestemming te vra om die teksverse op te plak nie.


Artikel: www1.cbn.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.