-deur Maroela Media

16 Junie 2017

Akademia het pas bekendgemaak dat dié Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit nou volledig as hoëronderwysinstansie deur die departement van hoër onderwys en opleiding (DHET) geregistreer is.

Die instansie het op 30 Mei die goeie nuus van die DHET ontvang dat dit nou volledig geregistreer is ná ʼn omvattende gehaltebeheerproses wat ses jaar lank geduur het. Akademia het in dié tydperk alle voorwaardes van die departement nagekom en aan alle vereistes voldoen.

“Akademia dien jaarliks ʼn jaarverslag in, wat ʼn vorm van ouditering van ons finansiële status en dienslewering aan studente is, asook ons volhoubaarheid met betrekking tot regsvereistes soos deur die Wet op Hoër Onderwys gestel aandui. Volledige registrasie impliseer dus geen statusverandering nie – ons moet steeds voortgaan om aan al die jaarlikse wetlike vereistes te voldoen – dit stel studente en ondersteuners bloot gerus dat Akademia van meet af ʼn hoë standaard handhaaf,” het Steyn gesê.

Volgens Piet le Roux, akademiese hoof, beskik Akademia reeds oor 11 studiesentrums wat geleë is in Bloemfontein, Boksburg, Centurion, George, Krugersdorp, Paarl, in die Moot en Lynnwood in Pretoria, Somerset-Wes, Tygervallei en Vanderbijlpark.

“Ons beplan om binne die volgende jaar minstens nog twee sentrums by te voeg waarvan een in Windhoek, Namibië.

“Ons wil die Afrikaanse publiek bedank vir hulle ondersteuning en in besonder dankie sê vir die lede van Solidariteit wat met hulle bydraes gehelp het om Akademia tot stand te bring,” het hy bygevoeg.

Daar is tans meer as 730 studente by Akademia ingeskryf en aansoeke vir studies in 2018 kan reeds gedoen word. Besoek Akademia se webwerf (http://akademia.ac.za/ ) en Akademia se Facebook-blad (https://www.facebook.com/akademiakampus/?fref=ts ) vir meer inligting hieroor.

Byskrif: Van die studente wat in April van Akademia se eerste grade ontvang het. Foto: Jhua-nine Wyrley-Brich.


Bron: maroelamedia.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.