5 Maart  2018

Die sakeregte-waghond AfriSake, sal in samewerking met verskeie organisasies, op Dinsdag 6 Maart 2018 ’n blitsberaad oor onteiening sonder vergoeding aanbied. Dít volg in reaksie op die  EFF se mosie oor ’n grondwetwysiging oor grondonteiening sonder vergoeding wat in die parlement geslaag het.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, is dit uiters belangrik dat die burgerlike samelewing stappe neem om eiendomsreg te beskerm: “Die doel van die beraad is om die onderskeie organisasies se interpretasie van die EFF en ANC se mosie, die politieke verwikkelinge en die pad vorentoe te bespreek.

Deelnemers aan die blitsberaad sluit in Solidariteit, AfriSake, AfriForum, AgriSA, die FW de Klerk Stigting, die Instituut vir Rasseaangeleenthede, Solidariteit, TLU en die Vryemarkstigting. Die ander vier partye wat ook teen die mosie gestem het, naamlik die ACDP, COPE, DA en VF+, is ook na die blitsberaad uitgenooi.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ook aangekondig dat dit ’n omvattende internasionale veldtog van stapel gaan stuur “om regerings wêreldwyd en buitelandse beleggers in te lig dat eiendomsreg in Suid-Afrika bedreig word en dat buitelandse beleggings in Suid-Afrika ook nie veilig sal wees nie sou planne vir die onteiening van eiendom sonder vergoeding deurgevoer word”.

Le Roux sê AfriSake beskou die termyn van mnr Ramaphosa as ʼn vensterperiode vir grondeienaars: “Grondeienaars in Suid-Afrika kan op beide scenario’s voorberei: sowel die afwering van onteiening sonder vergoeding as die inwerkingstelling daarvan. Aan die een kant mag dit wees dat onder Ramaphosa, nieteenstaande sy openbare beloftes, onteiening sonder vergoeding afgeweer word. AfriSake gaan alles in die stryd werp om laasgenoemde te verseker – en ons versoek die publiek se steun hierin.”

Enige organisasie wat die beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika op die hart dra, word deur Afrisake genooi om ook by die blitsberaad aan te sluit.

Kontak: 012 644 4397

Epos: diens@afrisake.co.za


Bron: solidariteit.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.