-deur Solidariteit

10 Januarie 2018

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun Afrikaanse skole wat wêreldgehalte onderrig bied, sedert 2014 om só voort te gaan.

Helpende Hand se fokus is die voorkoming, verligting en verbreking van armoede en daarom is die SOS betrokke by opleiding van onderwysers en leerders. Armoede raak ongetwyfeld alle mense in Suid-Afrika en kinders word die meeste daardeur geraak. Volgens Helpende Hand kan armoede verbreek word deur kwaliteit opleiding en onderwys. Die SOS-span bestaan uit elf kundiges met ʼn wye onderwys-agtergrond, en hulle spesialiseer in die professionele ontwikkeling van onderwysers omdat hulle glo, soos wat navorsing bewys, dat die kennis van die onderwyser een van dié belangrikste faktore in leerders se prestasies is.

Matriekuitslae is tans die enigste maatstaf wat ons het om die standaard van onderwys in Suid-Afrika te bepaal. Sedert die wegdoen van die Jaarlikse Nasionale Assessering (JNA), is dit belangrik om gevolgtrekkings oor die standaard van ons onderwys in Suid-Afrika daarvolgens te maak. Dít is die hoofrede vir die verslag wat uitgereik is deur die SOS oor 2017 se matriekuitslae.

Volgens die verslag presteer Afrikaanse skole uitstekend en skep hierdie skole steeds vir Afrikaanse leerders ʼn suksesvolle opvoedkundige tuiste. Die verslag toon aan dat die suksesvolle afhandeling van ʼn skoolloopbaan in Afrikaanse skole bykans gewaarborg word en dat leerders ’n beter kans van tot 11% staan om matriek te slaag.

Alhoewel Afrikaanse hoërskole slegs 10,1% van alle hoërskole in Suid-Afrika verteenwoordig, behaal hulle 18,9% van die skole se leerders toelating tot B-graadstudies. Afrikaanse skole is dus 52,5% meer suksesvol om deure tot B-graadstudies vir leerders te open as ander skole in die land.

In die groep van 684 Afrikaanse skole wat Wiskunde tydens 2017 se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen geskryf het, het 29,6% van al die skole se leerders Wiskunde-onderskeidings ingepalm. Sukses in die Wiskunde-klaskamer hang baie van die kennis van die onderwyser af. Met ’n studie in 2016 het die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (V.A.W.) vasgestel dat matriek onderwysers 97,2% vir die Voorbereidende Eksamen (Wiskunde) behaal het. Die kennis van Wiskunde-onderwysers is die belangrikste faktor in die prestasie van leerders – dit verklaar hoekom Afrikaanse skole so goed vaar.

Volgens die SOS is die gehalte van talle Afrikaanse skole onbetwisbaar. Afrikaanse skole bied vir leerders die beste geleentheid tot ’n uitstekende matrieksertifikaat en maak gevolglik baie deure oop tot tersiêre studies. “In Afrikaanse skole word die suksesvolle afhandeling van ’n skoolloopbaan bykans gewaarborg en staan leerders ’n 11% beter kans om matriek te slaag.”

Die SOS-opleiding fokus tans op Wiskunde, Afrikaans Huistaal, Rekeningkunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe asook die Grondslagfase. Volgens die verslag beklee Afrikaanse skole heelwat topposisies op die SOS se Top 20-lyste in kernvakke soos Wiskunde, Rekeningkunde, Fisiese Wetenskappe en Lewenswetenskappe.

“Afrikaanse skole moet gekoester en as ʼn bate uitgebou word.”

Klik hier om die verslag af te laai.


Bron: solidariteit.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.