-deur Annelise de Vries en Jhua-Nine Wyrley-Birch

16 Junie 2017

Terwyl Afrikaans in Suid-Afrika, die land waar dit met bloedsweet en harde werk ontstaan en ontwikkel het, kwyn en geminag word, wen die taal internasionaal al hoe meer veld en harte.

Aan die tuisfront word die posisie van die taal aan verskillende teenstrydighede gekenmerk.

Dr. Nicol Stassen, uitvoerende hoof van Protea Boekhuis, skryf dat Afrikaanse boeke tans die markaandeel wen as na die uitgewersbedryf gekyk word. Volgens hom was 49% van alle plaaslike gepubliseerde titels in 2015 in Afrikaans terwyl groot internasionale uitgewers soos Penguin Random House en Oxford óók tot die Afrikaanse mark toegetree het.

Afrikaans gedy ook nie net in dié bedryf nie, maar op verskeie ander platforms soos televisie, radio, die kunste, kunstefeeste en die filmbedryf.

Aan die ander kant word Afrikaans op amptelike vlak verskraal en in die howe en onderwysinstellings op ʼn strukturele wyse afgetakel en ongeldig verklaar.

Die aantal studente wat vir Afrikaanse vakke by universiteite inskryf, het die afgelope 10 jaar landwyd afgeneem. Om twee voorbeelde te noem: By die Universiteit Stellenbosch (US) het 1 303 studente in 2007 Afrikaanse taalverwante vakke op voorgraadse vlak geneem. In 2016 het slegs 345 studente vir dieselfde vakke geregistreer. Hierdie vakke sluit in Afrikaans vir vreemdetaalsprekers, Afrikaans as tweedetaal, Afrikaanse taal- en literatuurstudies en gevorderde studies in Afrikaans.

By die Universiteit van Johannesburg (UJ) stel nog minder studente in Afrikaans belang. In 2007 het 506 studente Afrikaanse vakke geneem, teenoor slegs 58 in 2016.

Dít dui op ʼn gemiddelde afname van 82% oor die afgelope tien jaar in die aantal studente wat Afrikaanse vakke by dié universiteite geneem het.

Wyle prof. Lawrence Schlemmer, internasionaal bekende sosioloog, het jare gelede gewaarsku dat die grootste gevaar vir Afrikaans is as dit as universiteitstaal moet verswak of verdwyn. Hy het gesê dit sal die ondergang vir Afrikaans as wetenskapstaal, vaktaal, taal van intellektuele omgang en uiteindelik ook as letterkundige taal beteken.

Die voortbestaan van Afrikaans kan dan nie soos sommige akademici en taalkenners aanvoer, slegs afhang van sy posisie in die kunste, die uitgewersbedryf en as gesproke taal nie. Die voortbestaan en beskerming daarvan hang ook af van die taal se posisie as hoëfunksietaal, veral in die onderwys en regspleging.

Oor dié troebel stand en status van Afrikaans plaaslik, is reeds tot vervelens toe geskryf, gepraat en gedebatteer. Daar is egter ook ʼn positiewe kant aan die saak van Afrikaans waarvan baie min mense tans weet. Afrikaans is lewendig in talle ander lande en die gebruik en bestudering daarvan neem internasionaal in gewildheid toe.

Uit bostaande grafiek is dit duidelik dat Afrikaans as vak by universiteite in nege Europese lande aangebied word, waaronder Rusland, België, Poland, Nederland, die Tsjeggiese Republiek, Oostenryk, Duitsland en die Verenigde Koningryk. Vyf Amerikaanse universiteite sowel as Suid-Afrika se buurland, Namibië, bied ook Afrikaans aan.

Dit is nie bloot toevallig dat Afrikaans in Europa, Noord-Amerika en in Afrika aangebied word nie, aangesien Afrikaans wortels in Afrika, Europa en Asië het.

Die vraag kan dan nou tereg gevra word waarom Afrikaans as vak in ander wêrelddele aandag geniet?

Dit kan toegeskryf word aan die feit dat dié taal een van die jongste Germaanse tale ter wêreld is en dat kennis hiervan ʼn individu kulturele insig in Afrika kan gee. Vergelykende studies op die terreine van taal, letterkunde en kultuur word ook daardeur moontlik gemaak.

Afrikaans het binne ʼn rekordtyd hoëfunksiestatus bereik. Dit het binne ʼn kwessie van 25 jaar, nadat dit 92 jaar gelede as amptelike taal gevier is, die lig aan vier universiteite gesien. Dit is juis om dié rede dat hierdie taal dikwels as gevallestudie gebruik word wanneer navorsing oor taalbeplanning onderneem word.

“Afrikaans is ʼn pragtige en emosionele taal. Dit is baie onregverdig dat dit in Suid-Afrika so onderdruk word,” meen Valentina Kim (22), ʼn Russiese student wat Afrikaans as Tweede addisionele taal aan die Lomonosov Moskouse Staatsuniversiteit se Instituut vir Asiatiese en Afrikatale studeer.

Sy was een van ses Russiese studente wat AfriForum in Februarie besoek het as deel van ʼn kultuurtoer wat deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gereël is om hul meer oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te leer.

“Afrikaans het vir my die mooiste klankpatrone en uitspraak,” het Alisa Balikhina (22), een van dié studente wat ook in 2015 vir ses maande Afrikaans deur ʼn uitruilprogram aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gestudeer het, gesê.

Sy het tydens haar besoek aan Forum Nuus gesê dat Russiese instansies nie dieselfde druk om te verengels ervaar nie. Sy meen daar is baie potensiaal vir Afrikaans om wêreldwyd te groei.

Talle internasionale akademici is ook ten gunste van Afrikaans en het reeds sentrums vir die studie van Afrikaans op die been gebring om die taal te beskerm en uit te bou.


Lees die volledige berig by forumnuus.co.za

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.