-deur Maroela Media

16 Februarie 2017

Die DA het ʼn beroep gedoen op Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, om die uitbreek van die herfskommandowurmplaag as ʼn nasionale ramp te verklaar.

Anette Steyn, die DA se skadumininster van landbou, bosbou en visserye, het gesê slegs as dit gedoen word sal daar broodnodige geld beskikbaar gestel word om die mielieboere wat tans gebuk gaan onder die plaag by te staan. Steyn het bygevoeg dat dié plaag voedselsekuriteit kan bedreig en die verhoging van voedselpryse tot gevolg hê.

Volgens berigte is die herfskommandowurm nou al opgemerk in ses van die nege provinsies, naamlik Limpopo, Noordwes, Gauteng, Vrystaat, Mpumalanga en die Noord-Kaap. Lees meer hieroor by Maroela Media (http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/verklaar-kommandowurm-tot-nasionale-ramp/)

Intussen bedreig ʼn ernstige water te kort ook boere in die Wes-Kaap. Kaapstad het nog net genoeg water vir 110 dae oor en dit is nie net die stede wat onder die droogte gebuk gaan nie, ook die landbousektor word ernstig beïnvloed. Beurtwater is vir besproeiingsboere langs die Bergrivier ingestel.

Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder van Agri Wes-Kaap, sê wingerde en vrugteboorde wat klaar gedra het, kry nou net genoeg water om dit aan die lewe te hou.

Die grootste ontsoutingsaanleg ter wêreld, die Hadera-aanleg in Israel, lewer sowat 127 miljoen kubieke meter hoë gehalte drinkwater. Kaapstad se waterverbruik is tans 845 miljoen liter per dag. ’n Hadera-tipe aanleg by Kaapstad sou dus in meer as ʼn derde van die watervoorraad kon voorsien.

Byskrif: Skade aan mielieland in Dwaalboom. Foto: Twitter via @EngelbrechtPiet


Bron: maroelamedia.co.za


Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.