-deur Jelleke Wierenga

7 November 2018

“Ek maak nou gereed vir my reis. Baie dankie vir alles. Ek sal van nou af nie meer beskikbaar wees nie.”

Só lui die laaste boodskap van die 29-jarige Aurelia Brouwers van die Nederlandse dorpie Deventer op Facebook voor sy haar voorgeskrewe drankie gedrink en die ewige slaap ingegaan het, met ’n glimlag op haar gesig en haar pienk speelgoed-dinosourus onder haar arm.

Hoewel Aurelia fisiek niks geskort het nie, het sy in haar aansoek om genadedood gesê die lewe het vir haar ’n ondraaglike lyding geword vanweë haar psigiatriese toestand, waaronder angs, depressie, eetversteurings en psigose. Sy het haarself beseer, verskeie kere selfmoord probeer pleeg en was in die tronk weens brandstigting.

Ingevolge Nederland se permissiewe genadedoodwet van 2002 kan enigeen wat “ondraaglike lyding sonder die vooruitsig van verligting” beleef, oorweeg word vir genadedood. Daar heers groot kommer oor die “glyerige afdraand” waarop Nederland met sy genadedoodwetgewing beweeg. Sedert verlede jaar was daar ’n toename van 8,1 persent in bystandselfdood, ’n totaal van 6 600 mense. Die vorige jaar was daar ’n toename van 10 persent.

“Die aanbod het die vraag geskep,” sê prof. Theo Boer, wat die 2002-wetgewing gesteun het, maar in 2014 bedank het uit die beheerliggaam oor genadedood weens die stygende getalle. “Ons raak gewoond aan genadedood, en dit is presies wat nie moet gebeur nie. Ons praat nie meer van uitsonderlike gevalle waarvoor die wet geskep is nie, maar van ’n geleidelike proses na georganiseerde dood.”

Bron: theguardian.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.