13 November 2017
– deur Lourieke Haller

“Bring die Hoop  weer terug” was die tema van die naweek se afgelope Loftus vir Jesus in Pretoria. Volgens Albertus Potgieter van iTickets het 28 000 mense die geleentheid bygewoon waar Gretha Wiid, At Boshoff van CRC Bloemfontein en pastoor Nevil Norden van Lewende Woord die skare geïnspireer, bemoedig en versterk het.

Die reuseskare het saam gejuig, Jesus se lof  besing en hoop uitgespreek oor Suid-Afrika vir vandag se generasie onder leiding van gaskunstenaars: Juanita du Plessis, Jo Black, Robbie Wessels, Loyiso Bala  en Andre Venter wat by die massalofprysingsgeleentheid opgetree het. Duisende mense het ook tydens die geleentheid tot bekering gekom toe At Boshoff ná sy boodskap ʼn uitnodiging gemaak het vir mense om hulle lewe aan Jesus oor te gee. 

Pastoor Nevil Norden het die skare voorgegaan in ’n gebed om te bely dat hulle getuienis oor die Bloed van Jesus groter sal wees as die uitroepe van die onskuldige bloed wat deur al die rasse in hierdie land vergiet is. Sy boodskap het die gelowiges in Suid-Afrika aangespoor om hulle geloof in Jesus Christus te anker.

Gretha Wiid het na aanleiding van die groot getalle jongmense gesê daar is hoop vir ons land omdat ons ’n volgende generasie het wat in God glo en hoop het vir ons land. “Ons kinders moet by ons hoor ons dien ’n God van hoop” het sy gesê. 

At Boshoff het bevestig dat hy Suid-Afrika lief het en nie ’n vliegtuigkaartjie na Nieu-Seeland of Engeland gaan koop nie. “I am not a  visitor to South Africa, I am here by God’s design,” het hy met sy arm om Loyiso  Bala gesê. Hy het gelowiges ook aangemoedig om hulle hoop te vestig op God, op  ’n hoop wat nie sal teleurstel nie. “Daar kan geen hoop sonder liefde wees nie, want jou geloof is geanker in God se liefde,” het hy gesê. Hy het ook gesê as Christene van verskillende rasse mekaar nie in die Kerk kan vind nie, waar gaan ons mekaar vind? “Ons ontmoet mekaar aan die voet van die Kruis. Daar is geen hoop wat sal voortduur buiten God se liefde nie.”

Daar word reeds ʼn Loftus vir Jesus 2018 beplan.


Bron: www.facebook.com

Return to Home

Gee Jou Mening


Deur aan te teken, gee jy toestemming om ons insiggewende weeklikse nuusbrief te ontvang.
Jy kan te enige tyd kies om dit te kanselleer.