-deur Leendert van Ieperen

Op 30 November verlede jaar het 150 studente van verskillende Shofar Kerke uit alle dele van die land saamgekom met een bestemming voor oë: “Destination Freedom”, die naam van die “rage festival” in Plettenbergbaai. Duisende matrieks wat hul eindeksamens geskryf het, was op pad om die strande en kuierplekke oor te neem, vasgevang in die kultuur van gaan-groot-of-gaan-huis-toe.
Die meeste van hulle sal vir jou sê dié vakansie was die beste tyd van hul lewe; min sal die waarheid erken – van die eensaamheid of die sakke vol spyt en skaamte waaraan swaar gedra word ná elke aand se gekuier. Hulle sal jou ook nie rêrig vertel van die bakleiery met vriende, of die drankmisbruik en hospitaalbesoeke nie; of net hóé erg hulle huis toe verlang het nie.
Die duisternis was daar, maar daar was ook hoop, die oorwinning van God se liefde vir Sy kinders, want die lig skyn in die donkerte, en die donkerte het dit nie oorweldig nie (Johannes 1:5). Ons span het gegaan met een doel in ons harte: om aan God se kinders liefde te bewys, nie net deur woorde nie, maar ook deur dade.
Ons basis was die perseel van die Plett Community Church, ’n plaaslike kerk wat ons met ope arms ontvang het. Daar het ons in die aande ’n “social lounge” gehad, sowel as “praise & worship”. Ons het ook saans ’n span na die feesterrein gestuur. Hulle het nie net die veiligheidsbeamptes gehelp nie, maar ook verhoudings gebou. Gedurende die dag het ons aktiwiteite soos “human fussball” en “touchies” op die strand gehou waartydens ons die eks-matrieks van ons eerstejaarskampe vertel het.
God se teenwoordigheid was in elke aktiwiteit en elke gesprek voelbaar. Sy liefde vir Sy kinders is wat hulle tot beke-ring gebring het, wat die gebroke harte weer heel gemaak het, en wat ware vryheid gebring het. Wat ’n ongelooflike voorreg om van Sy liefde te kan getuig!


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)