– deur Mercy KannemeyerNaomi Bruwer

Mercy Kannemeyer, ’n honneurs-dramastudent by Stellenbosch Universiteit, het ’n 12-minuut dokumentêr oor wat daar is om te verloor indien Afrikaans finaal afgeskaf word as tersiêre onderrigtaal, gemaak. Daar word met kenners en studente gesels; insluitend Helen Zille, Willa Boezak, Rhoda Kadalie, Wim de Villiers en Abraham Phillips.

Naomi Bruwer het vir Mercy Kannemeyer oor haar dokumentêr uitgevra.

Hoekom het jy besluit om hierdie video te maak?
Ek het besluit om die dokumentêr te maak omdat ek lief is vir Afrikaans. Die verskillende fasette wat daar is aan Afrikaans was vir my nog altyd opwindend. Noudat Afrikaans afgeskaf of afgeskaal word aan baie universiteite in ons land, dink ek dis ’n relevante onderwerp om te ondersoek. Daar word ook verskriklik gespekuleer rondom Afrikaans en of Afrikaans dit gaan oorleef indien dit nie die onderrigtaal aan universiteite is nie – talle meen Afrikaans gaan nie kan floreer as dit wegval as onderrigtaal nie, en ander meen weer dat Afrikaans op ander plekke, soos in boeke of teaters of flieks, gaan voortleef. Dit mag dalk so wees, maar flieks en die teater is grootliks ontoeganklik vir arm moedertaalsprekers, so wat doen daardie mense indien hulle nie in Afrikaans as onderrigtaal kan leer nie? Ek het toe besluit om die dokumentêr te maak omdat daar ’n hele klomp moedertaalsprekers is wat uitgesluit word by die diskoers rondom Afrikaans.

Vir wie is hierdie video gemaak? Wie wil julle bereik?
Die dokumentêr is vir alle mense gemaak. Dit is nie uitsluitlik vir Afrikaanssprekendes nie, maar almal wat belang vind in onderrig en taal. Taal is die een ding wat alle mense gemeen het en ons taal bind ons aan mekaar. 

Hoe ervaar jy persoonlik, beide as Afrikaanssprekende student en as medestudent van dié wat nie Afrikaans magtig is nie, die huidige taalsituasie by die US?
Die huidige taalsituasie by die US is opwindend en daar is baie moontlikhede vir diskoers. Die diskoers is soms eensydig en dit is nie so algemeen dat Afrikaanssprekende studente byeenkom en gesels oor die taalsituasie nie. Ek was wel ook in die Departement Afrikaans en Nederlands en daar is baie geleenthede om te gesels.

Ek ervaar ook die huidige taalsituasie as baie verwarrend: vanuit die een oord hoor jy dat Afrikaans bewaar gaan word, maar vanuit die ander oord dat Afrikaans al hoe minder in die klas gebruik word.

My hart is regtig dat elke landsburger in die taal van hul keuse by die instansie van hul keuse kan studeer. As medestudent van diegene wat nie Afrikaans magtig is nie, kan ek regtig tot ’n sekere mate deel in die frustrasie van om uitgesluit te voel, want as bruin vrou was ek al in situasies waar ek misgekyk word. My wens is dat die studente wat nie Afrikaans magtig is nie, tuis sal voel by die US en onderrig kan word in die taal wat hulle kies. Ek staan dus vir ’n meertalige universiteit en gelyke kanse vir alle studente.

Voel jy dat bewegings soos Open Stellenbosch geregverdig is in hul standpunt dat Afrikaans ’n taal is wat mense as sulks uitsluit? En dat Engels die enigste opsie is om almal gelyke toegang te gee?
Die standpunt dat Afrikaans mense uitsluit, is geregverdig, want ons sien en beleef dit in die klas, by groot geleenthede wat op kampus plaasvind en ook in sosiale ruimtes. Ek voel wel dat daar onderskeid getref moet word tussen wanneer mense veg teen Afrikaans die taal en Afrikaans die kultuur en geskiedenis wat onderdrukkend is, want die geveg teen Afrikaans lyk vir my baie keer na ’n geveg teen die gesig van Afrikaans, wat hoofsaaklik wit is as gevolg van apartheid. Dit word nie altyd duidelik wat ’n groot rol bruin en swart mense binne Afrikaans gespeel het en nog steeds speel nie.

Ek stem egter nie noodwendig saam dat Engels ons enigste opsie is nie. Daar is soveel arm moedertaalsprekers wat van skool af Afrikaas praat en leer, spesifiek in die Wes-Kaap. Ek glo mense druk hulself die beste uit in hul moedertaal en dat mense in hul moedertaal kan floreer.

Wat is jou standpunt oor moedertaalonderrig op tersiêre vlak, in ag genome dat Afrikaans die moedertaal van die meerderheid potensiële studente, en veral bruin studente, in die Wes-Kaap is?
Moedertaalonderrig is van kardinale belang. Almal moet die geleentheid kry om in hul moedertaal (tensy anders deur die individu gekies) onderrig te ontvang. Almal moet in hul moedertaal kan leef, leer, skep en besef dat moedertaal bemagtigend is. Vir bruin moedertaalsprekers is dit belangrik dat ons op tersiêre vlak ook in ons moedertaal kan leer, want dit maak bloot net nie sin dat leerders op skool in hul moedertaal leer en dan nie die kans kry om dit ook op universiteit te doen nie. Ek dink so iets sal tot gevolg hê dat ouers nie hul kinders in Afrikaanse skole plaas nie, wat tot gevolg gaan hê dat daar minder akademici in Afrikaans opgelewer gaan word.

Glo jy dat daar nog ’n “omkeer” moontlik is ten opsigte van Afrikaans se posisie as onderrigtaal aan die US?
Absoluut! Afrikaans moet geherstandaardiseer word en ’n face-lift kry. Niks gaan vir Afrikaanssprekendes verander as ons nie wegbeweeg van die wit, onderdrukkende gesig van Afrikaans nie. Afrikaans is ’n swart taal en bruin en swart sprekers van die taal moet voel dat hulle vrylik hul taal kan benut in al sy variante. Dat Afrikaans ’n swart taal is, beteken glad nie dat wit mense nie Afrikaans moet praat nie – hoegenaamd nie; dit beteken net dat Afrikaans vanuit ’n ander oog beskou moet word. En daardie oog is dat Afrikaans in Afrika ontstaan het. 

Wat is die houding jeens Afrikaans as onderrigtaal by die US, na aanleiding van jou gesprekke met almal in die video?
Afrikaans as onderrigtaal by die US lok verskillende reaksies by mense uit. Sommige studente voel dat die US nie oop kaarte speel met wat hulle kan bied nie; kenners voel dat Afrikaans nodig is omdat dit die enigste reënboogtaal is; sommige meen dat moedertaalonderrigskole floreer en dat dit leed aan die mense sal doen indien tersiêre onderrig nie vir daardie mense in hul taal aangebied kan word nie; en ook dat die rol van die US is om bruin mense te bemagtig in hul taal, omdat die Wes-Kaap se oorgrote meerderheid Afrikaanssprekend is. Daar is ook ongelukkigheid en teleurstelling omdat verengelsing ’n groot impak op arm Afrikaans-moedertaalsprekers gaan hê.

Kortliks: watter boodskap wil jy ten slotte oordra deur hierdie projek?
Ten slotte is dit belangrik om die ander kant van die taaldebat te bekyk. Die kant wat nie dikwels in die media oor gesels word nie, die kant wat stilgemaak was en steeds stilgemaak word, en die kant wat vir so lank ook al veg vir dit waarvoor hulle lief is. Dit is ook belangrik om in konteks te leef, want sodra jy wegbeweeg van dit wat jou taalgemeenskap nodig het, raak jy uit voeling uit en kan die taal en sy mense verlies ly.

Beplan jy om hierdie video op te volg met nog video’s of artikels?
Definitief. Die projek skep geleentheid vir diskoers en dis altyd goed om soveel as moontlik met soveel mense as moontlik oor die betrokke onderwerp te gesels sodat ons vanuit ons diskoers oor kan gaan tot aksie.

Foto: Mercy Kannemeyer (Foto deur: Izak de Vries)


Bron: www.litnet.co.za

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)