–deur Angus Buchan

Anders as enige ander beroep wat beoefen word om ‘brood op die tafel te verseker’, is boerdery eerder ’n leefstyl. Dit moet nogal vir ‘n IT-deskundige moeilik wees om die Bybel so goed soos ‘n boer te kan verstaan – die Bybel is vol landbouterme en –beelde: die saaier, die herder, die landbouer.

Ek het eenkeer agter ’n boer se bakkie gery waarop hierdie treffende plakker was: ‘Moenie boere met jou mond vol kos kritiseer nie!’ Elke mens in ons land het een of ander band met boerdery. Omdat ek self vir baie lank ’n boer was, weet ek dat dit nie uiteindelik oor die skape, beeste, of oeste gaan nie, maar wel oor verhoudinge.

Hoe stewig is jou verhoudinge?

Iets wat my ongelukkig nogal lank geneem het om te leer, is nie hoe vet jou vee is, hoe goed jou gesaaides groei of selfs of jou vee reg vir die mark is nie. Die belangrikste is: Hoe stewig en goed funksioneer jou verhoudinge tuis? In Mark 8:36 lees ons: “Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?”

Wat help dit jy is die ‘Boer van die Jaar’ en jy het nie die liefde of steun van jou vrou en kinders nie? Mense besef al hoe meer jy kan jou dae daaraan wy om die top-boer/-sakeman te wees, maar as dinge tuis nie glad verloop nie, is dit niks werd nie.

Ongelooflike geestelike ervaring

Ek het so pas van Noord-Ierland teruggekeer waar ek ’n ongelooflike geestelike ervaring gehad het terwyl ek daar gepreek het – Rooms Katolieke en Protestante het in die Naam van Jesus bymekaargekom en is gered! Al wat ek as rede daarvoor kan aanvoer, is dat ek nie ’n priester of predikant is nie, maar ’n eenvoudige boer. Ek veronderstel dit is omdat ek nie ’n bedreiging vir enigiemand is nie en mense dus maklik hul harte kon oopmaak en die Here met hulle kon praat deur die Woord wat bedien word.

Verhoudings benodig aandag

Dit is nodiger om aan ons persoonlike verhoudings te werk as aan ons landboubedrywighede. Dit is ’n spanpoging. Ons gesin is van die begin af álmal by boerdery betrokke. Maar sonder Jesus Christus is dit eintlik ’n totale mors van tyd.

Deel die visie

Dit is noodsaaklik dat ons ons visie met ons geliefdes deel, wat dit ook mag wees. Ons behoort ook met ons gesinne te praat oor alles wat ons na aan die hart lê – ons oorwinnings, teleurstellings en ons uitdagings. Dit is uiters noodsaaklik sodat hulle gebalanseerde mense kan word, dan sal hulle nie heeltemal uitmekaar val indien probleme oor hulle pad kom nie. Dit is nie só gekompliseerd om die Christelike lewenswandel na te volg nie. Ek is net baie jammer oor één ding: dit het my 32 jaar geneem om te besef ek kan ’n beter pa, boer en werkgewer met Jesus Christus aan die stuur van sake wees.

Eerlikheid is baie belangrik

Eerlikheid is uiters belangrik in enige verhouding. Indien jy saans tuis kom, is dit baie belangrik dat jy met jou huisgenote sal deel wat jou bekommer, opgewonde maak, waarom jy moeg is, waarom jy nie in ’n baie goeie bui is nie. Jou vrou en kinders weet nie instinktief hoe jy voel nie. Bespreek ge­rus die sake tydens ete aan die etenstafel – jy sal verbaas wees hoe dit gesinsverhoudinge positief beïnvloed.

Van die hartseerste beradingsessies wat ek moes behartig, was nie waar ’n derde party betrokke was nie, maar waar die man dit net nie nodig geag het om sy sake hoegenaamd met sy vrou te bespreek nie. In­dien julle saam bid, Bybel lees, gesels oor alles en gemeenskaplike belangstellings het, sal dit jul verhouding versterk. Die gesin wat saam bid, staan saam – selfs in moeilike omstandighede.

Indien jou kinders sien dat jy God se aangesig in alle omstandighede soek (Jak 5:16), sal dit hulle vir die res van hul le­wens bybly. Moet ook nie vergeet om vir jou geliefdes of werknemers/werkgewers te bid nie. Verklaar met vrymoedigheid Wie jy dien – die grootse Boer wat ooit geleef het – Jesus Christus!


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)