–deur Angus Buchan

Toe hulle vir Martin Luther vra wat die drie wonderlikste deugde is waaroor enige man van God kan beskik, het hy geantwoord: “Die eerste is nederigheid, die tweede is nederigheid en die derde is nederigheid.” Daar is niks onsmaakliker as ʼn arrogante, grootpraterige Christen nie.

As ons uit die boot klim en God begin vertrou, is Hy altyd getrou aan Sy Woord omdat Hy op geloof reageer. Hoe meer Hy ons seën, hoe moeiliker is dit om nederig te bly. Die Heilige Gees het my oortuig dat ek versigtig moet wees en nederig moet bly; anders kom ek tot ʼn val.

IN DIE HART VAN AFRIKA

ʼn Paar jaar gelede het ek in die hart van Afrika gepreek – in die noorde van Mosambiek. Ons het met ons groot vragmotor, die geel ‘Seed Sower’ gery en ek het iets van hierdie nederigheid beleef soos nog nooit tevore nie. Mense is daardeur gered en genees. Ons was verheug oor God se goedheid, maar ʼn mens kan baie arrogant in so ʼn situasie raak.

Ons het in ʼn baie primitiewe statjie gekamp waar daar geen water of ligte was nie, net grashutte. Die predikant van die kerk het ʼn baie stil en gereserveerde vrou gehad en sy was die een wat my die baie belangrike les oor nederigheid geleer het; een wat ek dink ek nooit so lank ek leef, sal vergeet nie.

GEBRUIK NA WILLEKEUR

Hulle het ʼn 44-gelling-drom (210 liter) vol water gehad. Daar was op daardie stadium ʼn watertekort in die gebied en die predikant het gesê ons span – omtrent tien of twaalf mense – kon soveel water as wat ons nodig het, gebruik. Die manier waarop hy dit vir ons gesê het, het ons laat dink dat hy moontlik ’n boorgat naby het, of dalk ʼn pyp wat water vanaf die rivier bring.

Tipiese westerlinge, het ons ingeklim, onsself, ons klere, ons hare gewas en ons het gekook, ons het alles gedoen totdat alles skoon en ons gerieflik vir die nag was. Daar was teen daardie tyd feitlik geen water in die drom oor nie. Dit was feitlik leeg.

WONDERLIKE GELUID

Maar die predikant het nie ʼn woord gesê nie. Ek en Jill se tent was redelik naby aan die predikant se hut en die leë drom. Daardie aand het ek rustig gaan lê, maar omdat ek ʼn plaasboer is, is ek ʼn ligte slaper wat vir die geringste geluidjie wakker word. ʼn Mens raak dit maar deur die jare gewoond. Met elke geluidjie wat van die koeikraal se kant af kom, moet ek gaan seker maak hulle het nie probleme nie.

Indien die hoenders in die nag tekere gaan, moet ek gaan seker maak dat daar geen muishonde in die hoenderhok is nie. Omtrent drie-uur daardie oggend het ek sagte voetstappe verby ons tent hoor stap. ʼn Halfuur later het die voetstappe teruggekom en ek het die geluid van water gehoor – vir ʼn boer altyd ʼn pragtige geluid. Toe weer sagte voetstappe tot ongeveer vyfuur die oggend. Toe was dit stil. Die eerste ding wat ek onthou het toe ek opgestaan het, was dat daar nie water was om my gesig te was of my tande te borsel nie omdat die drom die vorige aand al leeg was.

Toe ek by die tent uitgaan om te sien of daar nie tog moontlik ʼn bietjie onderin die drom oor was nie, was die drom tot bo vol met vars, skoon water. Ek het dadelik na die hut gegaan en gevra waar die water vandaan gekom het. Die antwoord? “My dear wife brought the water.”

GEDOEN UIT LIEFDE

Op daardie stadium was sy vrou reeds van vroegoggend op die lande werksaam, sy was nie eers in sig nie. Die voetstappe wat ek deur die nag gehoor het, was hare en sy moes ongeveer 1 kilometer na die stroompie loop, ʼn 20-liter-wateremmer volmaak en in die drom kom gooi nog voordat die son opgekom het. En dit het sy uit liefde vir ons gedoen – sonder om ‘dankie’ te verwag.

Dit het my ontsettend geraak en baie nederig laat voel. Hieruit het God my baie duidelik laat sien dat indien jy iets uit liefde doen sonder om ʼn beloning te verwag, is dit nederigheid. En nederigheid kenmerk die opregte man en vrou van God. Laat ons hierdie nuwe jaar nooit vergeet om in nederigheid na ander uit te reik nie.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)