Verlede week het ek by my kantoor ingestap en ʼn sakkie met drie heerlike, sagte, tuisgemaakte sjokoladekoekies (‘brownies’) op my lessenaar gekry. ʼn Anonieme, maar baie bedagsame persoon wat weet dat ek gaande is oor dié koekies, het dit saam met ʼn kort, handgeskrewe storietjie, op my lessenaar neergesit.

DIE SOET GEUR

Twee tieners het hulle pa gevra of hulle ʼn rolprent kan gaan kyk wat al hul vriende alreeds gesien het. Nadat hy ʼn paar resensies oor die rolprent gelees het, het hy egter geweier.

“Ag Pa! Hoekom nie?” het hulle gekla. “Dit is PG13-gegradeer, en ons is albei ouer as 13!” Pa het só gereageer: “Daardie rolprent bevat naaktonele en beeld ʼn immorele leefstyl as normaal en aanvaarbaar uit. Daarom nie.”

“Maar Pa, dit is maar baie klein deeltjies van die film! Dit is wat ons vriende, wat al die rolkprent gesien het, vir ons vertel. Die rolprent is net 2 uur lank en daardie tonele is net ʼn paar minute lank! Dit is op ʼn ware verhaal gebaseer en die goeie oorwin die slegte en daar is nog ander temas soos moed en selfopoffering wat uitgebeeld word. Selfs die resensiewebwerwe sê so!”

“My antwoord is ‘nee’, en dit is finaal. Julle is welkom om vanaand by die huis te bly en van julle vriende oor te nooi om een van die goeie tuisvideo’s saam met julle te kyk. Maar julle gaan beslis nie daardie rolprent kyk nie en dit is nou finaal!”

Die twee tieners het maar baie dikmond na die gesinskamer geloop en op die rusbank neergesak. Terwyl hulle so sit en hulleself jammer gekry het, was hulle verbaas om te hoor dat Pa in die kombuis besig was. Baie gou het die wonderlike geur van sjokoladekoekies wat in die oond bak, die vertrek gevul. Een het vir die ander gesê: “Pa voel seker skuldig en nou probeer hy vergoed deur vir ons die koekies te bak. Miskien kan ons hom sagmaak en hom prys; dan sal hy ons dalk laat gaan.”

Teen hierdie tyd was ek al besig met my tweede koekie uit die pakkie op my lessenaar en het onwillekeurig gewonder of daar dalk ʼn verband tussen die storie en die sakkie koekies is. Ek het verder gelees…

‘N NARE VERRASSING

Die tieners is nie teleurgestel nie. Baie gou het Pa met ʼn bord heerlike, warm koekies uit die kombuis verskyn en hy het daarvan vir die kinders aangebied. Hulle het elkeen een geneem. Pa het egter gesê: “Voordat julle eet, wil ek net eers iets sê. Ek is baie lief vir julle altwee. Dit is hoekom ek hierdie koekies met net die beste bestanddele gemaak het. Ek het alles self gemaak. Die meeste van die bestanddele is selfs organies – die beste organiese meel, eiers van vrylopende hoenders, die beste organiese suiker, premium vanielje en sjokolade.”

Die koekies het sowaar baie lekker gelyk en die tieners was sommer ongeduldig oor die pa se lang ‘toespraak’. “Maar ek wil baie eerlik met julle wees. Daar is een bestanddeel wat ek gebruik het wat nie gewoonlik in die resep gebruik word nie. Ek het dit sommer hier in ons eie agterwerf gekry. Maar moenie bekommerd wees nie, ek het net ʼn baie klein bietjie hiervan bygegooi – dit sal beslis nie die heerlike smaak beïnvloed nie. So, eet gerus en sê my wat julle van my probeerslag dink.”

“Pa, sal jy omgee om vir ons te sê wat die geheime bestanddeel is voordat ons die eerste hap vat?”

“Hoekom? Dit was net ʼn klein bietjie – net ʼn teelepeltjie vol. Julle sal dit nie eers proe nie.”

“Kom nou Pa! Sê ons net wat die bestanddeel is!”

“Toemaar wat, dit is organies – net soos die ander bestanddele.”

“Pa-a-a!”

“Nou goed dan , as julle dan wil  weet. Dit is organiese…hondepoef.”

DIE BOSE BEDERF

Ek het self dadelik ophou kou en die bietjie van die tweede koekie in my mond uitgespoeg, maar verder gelees, bang vir wat dalk in die volgende paragrawe mag staan.

Die twee tieners het albei hulle koekies in die bord teruggegooi en hul vingers met afsku bekyk.

“Pa! Hoekom het jy dit gedoen? Jy het ons omtrent gestraf deur ons die afgelope uur met hierdie heerlike geur te treiter en nou vertel jy ons dat jy hondepoef ingegooi het! Ons kan mos nie nou hierdie koekies eet nie!”

“Hoekom nie? Die bietjie hondepoef is baie min in vergelyking met die res van die bestanddele. Dit kan geen skade doen nie. Dit is saam met al die ander bestanddele gemeng en gebak. Julle sal dit nie eers proe nie. Dit het dieselfde tekstuur as die koekies. Gaan gerus aan en eet maar!”

“Pa! Nooit!”

“En dit is dieselfde rede waarom ek nie sal toelaat dat julle daardie rolprent gaan kyk nie. Julle wil nie eers ʼn klein bietjie hondepoef in julle koekies hê nie, nou hoekom sal julle dan ʼn klein bietjie immoraliteit in jul rolprent wil verduur? Ons bid God moet ons nie in versoeking bring nie, hoe kan ons dan onsself vermaak met iets wat ʼn sondige beeld in ons koppe sal vestig en ons in versoeking sal lei lank nadat ons dit vir die eerste keer gesien het?”

Ek het die sakkie met die oorblywende koekies weggegooi. Wat nog ʼn oomblik gelede onweerstaanbaar gelyk het, was skielik mislik! En dit net omdat ek dalk iets eet wat ietwat ‘besoedel’ was. (Dit was beslis nie…maar ek kon myself nie sover kry om verder te eet nie.)

MOENIE SONDE VERDRA NIE

Wat ʼn uitstekende les oor suiwerheid! Hoekom verdra ons sonde? Tydens die Pasga is die Israeliete beveel om elke greintjie suurdeeg uit hul huise te verwyder. Sonde is presies net soos suurdeeg – net ‘n klein bietjie kan ‘n groot klomp deeg deursuur. Geloof en sonde – dit meng doodeenvoudig nie! (1 Kor 5:6,7)


 


Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)