– deur Heleen Abrahamse

Talina weet wat die gevolge gaan wees, maar sy moet probeer. Sy kan nie langer meer stilbly nie. Hulle moet hierdie ding uitpraat. Of darem net probeer. Probeer. Hoe lank moet sy nog probeer? As sy stilbly gaan dinge goed. Dis wanneer sy durf haar mond oop maak wat die bomme bars. Die Here weet sy’t al probeer om stil te te bly net dat daar vrede kan wees, maar alles hoop op. Sy kannie maak of alles oukei is nie.

Andreas kannie met geld werk nie. Sy ook nie eintlik nie, maar sy het haarself geleer.  In elk geval tussen die twee van hulle is dit beter dat sy die minister van finansies is. Maar dis nie waaroor sy daai aand wou praat nie.

As sy nou terugdink kan sy nie onthou presies waaroor sy met Andreas wou praat nie. Sy het haar saak gestel en hulle het begin argumenteer.  Sy het gehou by dit wat sy van hom verwag.  In die verlede sou sy al bes gegee het, maar ter wille van haar behoud as mens, hou sy voet by stuk by haar argument.  Die berader het vir haar gesê sy kan en sy moet, anders gaan dinge nooit verander nie. 

Sy onthou, toe haar hond hardloop om onder haar spieëltafel te gaan wegkruip toe weet sy… Die gogga gaan nou uitklim.

Sy wag.

Sy weet wat kom.  Sy sug ʼn diep sug. Een wat vra vir krag. Een wat wat sê, bly net kalm. Een wat sê, nou moet jy jou woorde tel. Een wat skrif in haar binneste begin opsoek want dis al hoe sy teen hom gaan staande bly.

Andreas sit op die bank. Sy asemhaling word swaar. Dit lyk asof hy iets van buite af inasem. Sy rug trek krom wanneer hy inasem. Hy kyk af. Met elke asemteug trek sy rug krom en dit klink of hy begin blaas, soos ʼn kwaai kat.  Wanneer hy opkyk na Talina is sy oë donker, sy gesig is bloedrooi. Woede. Onbeskryflike woede gloei deur sy oë na haar. Hy kners op sy tande. Die are in sy nek bult. Dit lyk of dit gaan bars as hy bietjie harder kners. Hy kyk na Talina en dan reën die vloekwoorde, beledigings en woede soos vuiste op haar neer. Hy praat nie eers oor dit wat die bakleiery in die eerste plek veroorsaak het nie.

Talina is nie meer verbaas oor dit wat hy vir haar sê en skree nie. Dit beteken nie dat dit nie meer seermaak nie. Dit kom immers steeds uit Andreas se mond al staan sy met ʼn demoon en praat. Dis baie moeilik om onderskeid te tref tussen dit wat ʼn demoon uit jou man se mond vir jou sê en dit wat hy self uit woede sê. Gewoonlik onthou Andreas niks na so besete episode nie.

Sy staan. Hy toorn oor haar om haar te intimideer.  Sy draai lankal nie meer om, om weg te loop nie. Sy deins nie eens terug nie. Sy staan net met ʼn hart wat bloei na hom en kyk en in haar hart skree sy tot in die hemel vir die Here om haar hierdeur te lei.

Hy tel sy hande op, sy vuiste bal. Sy wonder of hy haar gaan slaan? Sy gryp haar salwingsolie van die kassie wat langs die televisie staan af. Sy smeer dit oor haar hande terwyl sy in haar taal begin bid.

Sy tree nader aan hom en sit haar hande aan weerskante van sy gesig en sy hou aan met bid. Hy begin haar teenstaan. Sy weet hy gaan haar probeer wegstamp.  Sy bid harder. Sy vererg haar. Hoekom gebeur hierdie met haar?  Hoekom kan Andreas nie harder fight nie?  Hy het haar B E L O W E!  In haar verergdheid en haar desperaatheid gryp sy haar Bybel.

Sy kry haar stem.  ‘In die naam van Jesus beveel ek jou om te sit’ sê sy.  Hy begin lag. ʼn Diep, koggelende, donker lag. Dit weergalm in die woonstel soos iets wat mens nog net in flieks gehoor het.  Talina bid dat haar ouers slaap, of dat die TV te hard is of iets. Solank hulle net nie hierdie commotion hoor nie.

Hy begin weer so asemhaal soos ʼn dier op die aanval. Talina staan stil. Kalm, sê sy, ‘Ekt gesê sit’. Onwillekeurig sak hy op die rusbank neer. Woedend. Haar keel brand maar sy sluk die trane af. Haar hart wil uit haar borskas spring van woede en hartseer. Sy smeer nog olie op haar hande, steek dit in die lug op en sê, ‘Here, laat hierdie olie die vuur van U gees op my hande wees. Laat die olie doen wat dit moet.’ 

Sy stap na hom toe. Sy sit haar hande aan weerskante van sy gesig en sy begin bid in haar taal. Sy weet nie hoekom sy haar hande op sy gesig gesit het nie. Sy’t net gevoel sy moet dit doen.  Hy begin worstel. Hy wroeg heen en weer. Sy krag is te sterk vir haar. Hy kan nie sy hande optel nie en sy weet dis geestelik verlam. Hy begin weer lag. Harder die keer. Meer uitdagend. Hy kyk met soveel haat na haar. Talina kyk terug. Tevergeefs soek sy na Andreas se oë in hom. Sy kyk net vas in n diep donker put van woede, haat en bloeddorstigheid.

Hy sê sy moet shut-up. Sy hou aan bid. Hy sê hy het klaar gewen. Hy sê Andreas sal nooit vry wees nie. Hy sê hy sal altyd daar wees. Hy sy hy gaan vir Andreas doodmaak. Talina vererg haar. Sy kyk na hom. ‘Andreas’ sê sy. ‘Jy moet hom self wegjaag. Jy moet scripture quote.’ Al wat sy aan kan dink is Nehemia 8:10 ‘The joy of the Lord is my strength’. ‘Andreas;’ sê sy, ‘Sê, the joy of the Lord is my strength. Onthou toe jy gegaan het vir bevryding het die vrou gesê jy moet scripture quote.’  Andreas reageer nie. Die demoon begin weer lag. Hy sê sy kan maak wat sy wil, dit help niks. Talina vat haar Bybel, sy slaan hom oop, sit hom op die grond en gaan staan bo-op. ‘Here’ sê sy, ‘U woord sê dat wie ook al na U roep in ʼn oomblik van nood, gered sal word. Vader, hierdie demoon luister nie na my nie en onderwerp hom nie aan die gesag wat ek ontvang het deur Jesus se dood nie. Here, fight U vir my en dryf hierdie demoon uit my huis uit.’ Sy bid verder in haar taal. Woorde is daar nie meer nie. Sy’t al alles gesê wat sy kon. Sy tel haar Bybel op, druk dit teen haar bors vas en bid verder in haar taal. Toe hy weer begin lag en vir haar sê Andreas sal nooit van hom ontslae wees nie, kon sy nie keer nie. Sy slaan. Die klank weergalm die hele woonstel deur. Dit was ʼn harde hou. Hy kyk na haar, dit lyk of hy haar met sy oë vermoor. Net voor hy weer ʼn gruwel dreigement kwyt raak slaan sy weer. Die anderkant. Na die hou tref begin haar gewrigte en hande pyn en sy weet sy het flippen hard geslaan. Hy sak terug op die bank. Pap. Die stywe stuiptrekkings is weg. Die are wat uitbult ontspan. Sy kaak ontspan. Talina weet Andreas gaan niks onthou as hy bykom nie en hulle gaan in die bed klim nadat sy probeer het om vir hom al die detail te gee. Hy gaan soos ʼn babatjie slaap en sy gaan in die diepste kamers van haar hart voor die Here se voete neerval en bid vir haar man…

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)