– deur Lisa Whinery

Die deur van die Geestesinrigting het agter my toegeklap. Ek kon nie glo wat besig was om te gebeur nie! Was ek nie een van die suksesstories nie? Gediagnoseer op 29, het ek elke denkbare gemoedsverandering deurleef sonder hospitalisasie.

In plaas daarvan om my gemoedsverandering weg te steek, het ek die spreekbuis van Bipolêre Depressie geword en praatjies aan steungroepe gelewer sodat hulle en hul gesinne bemoedig kon word. Nou kon geen inligting of bemoediging keer dat ek in ‘n diepe depressie wegsink nie. Ek het teen die deur geleun en God gesmeek om my in die skadu van Sy vleuels te beskerm. Ek het my eerste gemoedsveranderinge in my tienerjare beleef, maar niemand het iets vermoed nie omdat ek dit so goed weggesteek het.

Ekstrovert

Ek was ‘n ekstrovert en briljante student en was deel van so baie aktiwiteite. En ek het altyd geglimlag. My ‘af-buie’ het later só erg geword dat ek my ouers moes vertel. Hulle het my onmiddellik dokter toe geneem, maar hy het dit sommer dadelik afgemaak as tipiese tienerbuie. My ouers was baie seker dat ek die gemoedskommelings sou ontgroei. Ek was seergemaak deur die diagnose en het my voorgeneem om my gemoedstoestand self te beheer.

‘N WOEDE-AANVAL

Vir die volgende elf jaar het ek my buie beheer. Ek het my studentejare voltooi, is getroud, het aan die hoërskool onderrig gegee en ook geboorte aan my dogter gegee. In November 1987 het ek egter simptome van sowel depressie as manie begin toon. Ek het gehoop dit sal verdwyn.

Een aand in Desember het ek my man by ‘n restaurant vir aandete ontmoet. Na die ete, op pad na ons karre toe, wou ek ‘n piñata vir my klaskamer koop, maar Tom het gesê daar was nie tyd nie. Ek was woedend, het in my kar gespring, met skreeuende bande uit die parkeerterrein gejaag en teen angs­wek­kende vaart op die snelweg huis toe gejaag.

Ek was só woedend dat ek sommer van ‘n heuwel wou afjaag. Op die laaste minuut het ek egter weer teruggeswaai in die pad en by die huis gekom, moes ek sien dat my hande bebloed was omdat my vingernaels in die palms ingegrawe het terwyl ek die stuur­wiel so vasgeklou het.

sikliese buiveranderings

Van toe af het my buie vinnig van absolute woede tot katotoniese depressie gewissel. Dit was toe dat ek mediese hulp gaan soek het. ‘n Psigiater het my simptome geasses­seer en dit ‘n naam gegee: Bipolêre Depressie. Uiteindelik hoor ek dat die simptome deur ‘n chemiese wanbalans in die brein veroorsaak word – nie deur emosionele of geestelike swakheid nie.

Die buie waarteen ek al vir jare ba­klei, was nie my fout nie! Die psigiater het ook gesê die buiverande­rings is siklies van aard. Sommiges ervaar dit elke twee, drie of vier jaar terwyl ander dit elke paar weke of maande ervaar. Stres, trauma en uitputting kan ook bydraende faktore wees. Medikasie voorkom of verminder die effek van die ernstigste simptome. Twee soorte medikasie is voorgeskryf, maar dit het hoofpyn, naarheid, droë mond en gewigstoename veroorsaak. Dit was vir my verkiesliker as die nare gemoedstoornisse. Binne nege maande het ek weer geestelik sterk gevoel. Ek het agtergekom dat my gemoed verbeter het toe ek een aand, terwyl ek skottelgoed opgewas het, sommer uitgebars het van die lag oor ‘n grap wat ek vroeër gehoor het.

Daar en dan het ek besluit as ek dan teen Bipolêre Depressie moes veg, ek presies wou weet waarvoor ek in is. Ek het ook dadelik by ‘n steungroep aangesluit – wat ‘n verligting om saam met ‘n hele groep vrouens te wees wat presies verstaan het waardeur ek gaan!

HERE, HOEKOM EK?

Met my diagnose was ek baie kwaad vir God. Ek het dikwels gevra: “Hoekom ek Here?” Baie dae het ek God in trane ge­smeek om hierdie las van my weg te neem. Maar Hy het nie. Hy het dit gebruik om my nader aan Hom te bring. Ek het eers nie die Bybel bestudeer of elke dag op God vertrou nie. Kort na my diagnose het ‘n vriendin my na ‘n Bybelstudiegroep vir vroue genooi. Deur Sy Woord het ek agtergekom hoe baie Hy vir my omgee.  Die volgende Skrif het my sommer baie bemoedig: “My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen.” Jos 1:9. My kennis van God se Woord en my vertroue in Hom het my deur groot emosionele pyn en verwarring in Hom geanker gehou. Sonder Hom glo ek nie sou ek oorleef het nie. Ek is gewaarsku dat sekere medikasie enige tyd hul effektiewe uitwerking op my kon verloor.

nuwe medikasie

In Mei 1998 het die medikasie wat my die vorige vier jaar stabiel gehou het, nie meer effektief gewerk nie. Emosioneel was dit vir my baie moeilik. My beste vriendin het aan breinkanker gesterf. Ek was vir vier jaar sonder ernstige gemoedskommeling, so my uurglas was besig om leeg te loop. Soos so baie wat aan hierdie siekte ly, het ek nie dadelik die simptome raakgesien nie.

Ek het eers net agtergekom dat ek moeg, hartseer en beangs was, maar toe die angs­tigheid en moegheid verskeie weke lank duur, het ek die psigiater besoek. Hy het my anti-depressante verander. Met my opvolgbesoek was my depressie beter, maar ek was baie geïrriteerd en ek het sleg geslaap.

Die dokter het my aangesê om nie die ander medikasie – ‘n gemoedstabiliseerder – te gebruik nie. Binne ses weke het ek die gebruik van die medikasie wat die vorige vier jaar my gemoedskommelings beheer het, gestaak. Sou die nuwe medikasie werk?

VERLAM DEUR VREES

Ek het deur die somermaande gewroeg. In die herfs het ek baie ernstige angs­aanvalle begin kry. Ek kon nie slaap nie omdat ek bang was ek sou versmoor. Ek was obsessief oor my gesin se veiligheid en het vas geglo dat ek binnekort sou sterf. Alle beheer het verdamp. Ek het dikwels gehuil sonder om te weet wat die oorsaak was. Ek het my geheel aan ander onttrek omdat dit vir my te moeilik was om sosiaal te wees.

Ek kon nie eers genoeg konsentreer om my Bybel te lees nie. Die dokter het twee keer weer my medikasie veran­der; ek het geen verbetering getoon nie en is gehospitaliseer. Tom, my dogters en my pa het my die eerste aand in die hospitaal besoek. Dit was moeilik, maar ek het voorgegee dat alles piekfyn was. Toe ek moes groet, het ek die angsaanval voel kom. Daardie nag was die eensaamste in my hele lewe. Ek het my Bybel probeer lees, maar kon nie konsentreer nie.

VASGEVANG IN DEPRESSIE

Ek het ‘n deel van ‘n Psalmvers wat ek kon onthou, begin sê: “onder Sy vlerke sal jy skuil.” My angs het verdwyn en ek het ‘n die­pe vrede ervaar. Só het ek aan die slaap ge­raak. Ek het gesmeek om huis toe te gaan en omdat ek nie probeer het om myself seer te maak nie, het die hospitaalpsigiater ingestem – met dien verstande dat ek 24 uur volwasse toesig sal hê.

Tom, my ouers en vriende het ‘n roos­ter daarvoor uitgewerk en ek het ook baie kaartjies en blomme ontvang. Ek het egter soveel druk van hierdie goedgunstigheid ervaar dat ek geglo het ek gaan nooit weer beter word nie. Die angsaanvalle het mettertyd opgehou, maar my depressie het vererger. Ek het baie min geëet of gepraat. Ek kon nie eers klere kies om in die oggend aan te trek nie, ek kon nie slaap nie en het die heel tyd aan selfmoord gedink. Ek kon later nie meer onderskei wat aangaan nie en drie weke voor Kersfees is ek vir ‘n 10-dag-hospitalisasieprogram opgeneem.

UITEINDELIKE DEURBRAAK

Ek is so bly dit het gebeur; God het dít as die keerpunt in my herstel gebruik. Die nuwe omgewing en medikasie het my die eerste keer in drie maande weer lig laat sien. Vyf dae voor Kersfees is ek ontslaan. Ek onthou dat ek wakker geword het en glad nie meer depressief gevoel het nie.

“Hoe het dit gebeur?” Ek moes lag by die gedagte en het vir myself gesê: “Moenie vra nie, aanvaar dit net.” Die regte diagnose, geloof in God, kennis en medikasie haal nie die angel uit Bipolêre Depressie nie. Ek kan nou deur fotoalbums blaai en in my oë sien watter jare ek aan depressie gely het. Ek ervaar nog elke drie, vier jaar gemoedskommelinge, ek het gekies om nie weer swanger te raak nie omdat my medikasie ernstige defekte kan veroorsaak. Ek en Tom het gekies om nog ‘n baba aan te neem.

nader aan mekaar

Ek is baie dankbaar dat my man by my gebly het ten spyte van hierdie dinge. So baie huwelike eindig a.g.v. die siekte in die egskeidingshof. Ons het wel deur stormwater gevaar, maar deur berading, gebed, ware liefde en toewyding het ons sterker geword en nader aan mekaar gegroei. Ek fokus ook daagliks net op die teenwoordige en is nie meer bevrees oor die toekoms nie.

My doel is: “In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het.” 2 Kor 1:4.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)