–deur Toi Nell

Jy hoef glad nie ’n rugsakreisiger te wees om te besef dat rosyne ’n heerlike happie is nie; maklik om te eet en te verpak, hoog in energiewaarde, en kan nooit sleg word nie.

Rosyne is droë druiwe en word in baie wêrelddele geproduseer, waaronder Kalifornië, Ierland, Australië, die Verenigde Koninkryk, Turkye, Iran, Chili, Griekeland en Suid-Afrika. Die woord ‘rosyntjie’ stam van die Latynse woord ‘racemus’, wat ‘droë tros druiwe’ beteken.

Die geskiedenis van rosyne

Die droog van druiwe word al sedert antieke tye gedoen en is so vroeg soos 2 000 v.C. in Persië en Egipte beoefen. Ons lees in Numeri in die Ou Testament: “…die persoon nie sterk drank, of asyn wat van wyn gemaak is, of gefermenteerde vrugtesap, of vars druiwe of rosyntjies eet nie.” Num 6:3.

Ook in 1 Sam 25:18 lees ons: “Abigajil het dadelik 200 brode bymekaargekry, en ook twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf houers gebraaide koring, 100 trosse rosyntjies en 200 vyekoeke.”

Antieke ruilmiddel en oorwinnaarsprys

Muurskilderye wat uit die vroegste tye dateer, wys dat rosyne algemeen as tafelversiering in die Middellandse streek van Europa gebruik is.

Die antieke Romeine het baie van rosyne gehou en het selfs hul aanbiddingsplekke daarmee versier, dit as ruilmiddel gebruik en as pryse vir wenners by groot sportgeleenthede aangebied.

Rosyne het dikwels ’n baie belangrike rol tydens die groot feeste gespeel en was altyd deel van die feesspyskaart. Die hele proses om druiwe te droog om rosyne te produseer, het uit Rome na die res van die wêreld versprei en Kalifornië is tans die grootste kommersiële rosyntjieprodusent ter wêreld.

Hittegolf die oorsaak

In 1873 het ’n hittegolf die druiwe-oes in Kalifornië verdroog en een boer het sy verdroogde druiwe na ’n kruidenier in San Francisco geneem en hom probeer oortuig om dit aan sy kliënte bekend te stel. In die proses het die inwoners agtergekom hoe aangenaam en veeldoelig hierdie ‘antieke lekkerny’ regtig kan wees en die produksie van rosyne het beslag gekry.

Tans word rosyne ook in Suid-Afrika geproduseer, maar slegs sowat 45 000 ton rosyne, in ’n mark wat bykans 1 250 000 ton vereis (2010/2011-seisoen), word plaaslik gelewer.

Gesondheidsvoordele van rosyntjies: Voordelig vir moderne leefwyse

Die gesondheids- en voedingswaarde van rosyne is legio en wissel van ’n uitstekende bron van klassieke voedingselemente, soos natuurlike suikers en kalium, tot nuut-ontdekte anti-oksidante wat deesdae ’n belangrike plek in die mediese wêreld beklee.

Rosyne is:

’n uitstekende energiebron.

Die natuurlike suiker in rosyne is ’n belangrike energiebron en dit bevat ook vesel en ander voedingstowwe.

’n goeie bron van kalium wat gesonde bloeddruk in stand hou.

Navorsing het reeds bewys dat die nodige inname van kalium in alle diëte belangrik is ten einde ’n ‘normale’ bloeddruk in stand te hou. Omdat rosyne baie kalium bevat, maar laag is in natrium, is dit dié ideale bestanddeel van ’n gesonde hart-dieet.

hoog in vesel en wynsteensuur.

Die vesel in rosyne, saam met ander plantvesel, reguleer die ingewandsfunksies en is voordelig vir behoorlike uitskeiding. Rosyne is een van die min vrugte wat genoeg wynsteensuur bevat wat in kombinasie met vesel, die kolon gesond hou.

’n draer van anti-oksidante.

Anti-oksidante verminder die risiko vir hartsiektes. Die fenolverbindings in rosyne is kragtige en beskermende anti-oksidante. Hierdie verbindings is een van die redes waarom vrugte en groente die mens teen hartsiektes en kanker beskerm.

baie goed vir gewigsbeheer en hartgesondheid.

Wanneer ’n mens honger, of lus vir ’n happie is, is ’n handvol rosyne baie gesond en bevredigend. Dit stil onmiddellik die honger en voorkom dat jy jou ooreet. Rosyne is ook suksesvol as deel van ’n dieet om bloedcholesterol te beheer.

Belangrike staatmaker

Jou ma het dalk al jare gelede vir jou gesê om ’n handvol rosyne te eet as jy met ’n honger kolletjie sit. Min het sy seker besef dat hierdie ‘ou staatmaker’ deesdae ’n baie belangrike plek in enige ge­sonde dieet beklee. Pro­beer gerus om hierdie lekkerny uit Romeinse tye weer ’n prominente deel van jou daaglikse dieet te maak.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)