–deur Errol Naldoo

Iemand het eenkeer gesê dat die Kerk amper onherkenbaar is van die wêreld. En dit is in so baie gevalle waar. Die essensie van die ‘Ecclesia’, ‘die uitgesoektes’, is dat ons van die wêreld onderskei moet word deur ons gedrag, taal en die lewens­filo­sofieë wat ons verkondig.

In so baie opsigte is die Kerk bloot napraters van die wêreld deur bloot net Christen-weergawes van wêreldse musiek, dramas of televisievertonings te ontwikkel. Die Kerk van Christus is egter ‘n oorspronk­like instelling met die bloudruk in die He­mel, wat op aarde gevestig is om geestelike en fisiese verandering by die mens teweeg te bring. In sy wese is die Kerk deur Christus in die lewe geroep ‘om alles nuut te maak’ en nie om van die wêreld te leen nie.

KLINK SOOS DIE WÊRELD

Hoekom praat Christene dan dieselfde taal as die wêreld? Dit is deesdae onduidelik of die Kerk die wêreld ten goede beïnvloed en of die wêreld die oorhand kry en die Kerk vinnig, maar seker besig is om soos die wêreld te word en by hulle te leen. Neem Emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu as voorbeeld.

Baie mense is deesdae nie seker of hy ‘n spreekbuis vir die Kerk of vir die wêreld, wat die Kerk veronderstel is om te beïnvloed, is nie. Tutu praat baie beslis die taal van Babilon, maar klee dit netjies met godsdiens in. Hy het nou al male sonder tal Bybelse konsepte soos geestelike weergeboorte, redding deur Jesus Christus alleen, sondebelydenis en straf as absolute twak afgemaak. Tutu het selfs so ver gegaan as om die term ‘homofobies’ – ‘n woord wat die homoseksuele aktiviste gebruik om diegene wat nie met hulle lewenstyl saamstem nie, te veroordeel – te gebruik om die God van die Hemel te dreig.

Hy het male sonder tal in sy veroordeling van die Anglikaanse Kerk gesê dat hy beslis nié ‘n ‘homofobiese’ God sal dien nie. Dit ís so dat God die sonde van homoseksualiteit veroordeel – net soos wat hy énige ander sonde veroordeel. Volgens Tutu en die homoseksuele aktiviste, maak dít God ‘homofobies’. Dit impliseer m.a.w. dat, sou God nie hierdie sonde van Sy veroordeling van homoseksualiteit bely nie, die grote Tutu, die liefling van die sekulêre media, Hom nie langer sal dien nie!

MISLEIDING WORD AANVAAR

Ek was verstom om gedurende my verblyf in die V.S.A. te sien hoé die Kerk mislei word. Al Gore se foutiewe waarskuwings oor klimaatsverandering en die humanistiese waansinnigheid wat daarop gevolg het, het Hollywood so aangegryp dat hulle nou aardverwarming die stryd aangesê het en onderneem het om die planeet te red!

‘n Kerk in Orlando, Florida, het selfs so ver gegaan as om die hele Opdrag om die wêreld te evangeliseer, opsy te skuif en deel geword het van die jongste liberale waansin om ‘die planeet te red’. Onder leiding van die pastoor, word daar direk na die oggenddiens uitgegaan in die strate en elke denkbare vuilgoedblik word deursoek en glas word van plastiek, ens. geskei en by herwinningsdepots afgelewer. ‘Red Moeder Aarde’ is ‘n sleutelbeginsel van die ‘New Age’-beweging en is dié geloof van Hollywood.

Die pastoor van hierdie spesifieke kerk is ‘n gereelde gas van die Amerikaanse media en word dikwels aangeprys vir sy ‘vooruitstrewende’ standpunte. Maar, wanneer ‘n kerk sy fokus van sieleredding na planeet­redding verskuif, het nie net die taal van Babilon neerslag gevind nie, maar daarmee saam die hele filosofie van Babilon.

DULD VAN SONDE

Dit is geensins anders in Suid-Afrika nie. Sekulêre humaniste, New Age-filosowe en homoseksuele aktiviste het almal ‘n misleidende taal ontwikkel wat, op die oog af, heilsaam en onskadelik klink. En, tragies genoeg, Christene val daarvoor! Babiloniese terme soos gay, homofobies, verdraagsaamheid, viering van verskeidenheid, holisties, intergeloof, algemene menswaardigheid, positiewe energie, vredestuine, haatmisdade, menseregte, ens. span almal saam om Bybelse opdragte en beginsels te ondermyn.

Die term ‘gay’, is in die negentien sewentigs deur homoseksuele wie se hoofdoel dit was om sosiale aanvaarding vir hul seksuele afwykendheid te kry, bedink. Meer onlangs, egter, het die term ‘verdraagsaamheid’ weer die nuwe gonswoord geword. Dit word voorgehou as die beste deug waaroor enige individu kan beskik. Wat die huma­nistiese en homoseksule aktiviste egter deur hierdie histeriese eise vir verdraagsaamheid probeer oordra, is ligjare verwyder van wat die Christen daaronder verstaan. En dit is juis hierin wat die misleiding van Babilon opgesluit lê. As die humaniste en hul bondgenote verdraagsaamheid eis, eis hulle eintlik dat sonde verdra moet word – alle sonde. Ons mag dalk nie met die sonde saamstem nie, maar ons moet dit verdra, want – dit is ‘n basiese mensereg!

Die enigste probleem hiermee is dat ek nêrens in die Bybel lees dat God eis dat ek mense moet verdra nie. Dit is hoekom ek die alarm hoor lui as ek hierdie woord in Christelike dokumente raaklees. In die Bybel word ons opgeroep om mense lief te hê. Vir die humanis, ongelukkig, is hierdie twee begrippe omruilbaar.

God se opdrag is om mense lief te hê, en as ek hulle opreg lief het, móét ek die waarheid met hulle deel. Dit behels die waarheid t.o.v. hul sondige lewenswyse deur die prisma van Sy Woord – nie om hul sondige lewenstyle te verdra nie!

‘ALTERNATIEWE’ LEWENSTYL

‘Vier ons verskeidenheid’ is nog ‘n term wat oral in Christelike lektuur opduik. Daar is, weereens, niks sinister omtrent ons verskeidenheid nie, tensy ons weet waarom die humaniste en hul agente in die liberale media­kringe hierdie idee aanhoudend be­vorder. Deur diversiteit in Babiloniese terme te vier, hou in dat ons ons kulturele en etniese diversiteit, maar ook ons seksuele verskeidenheid moet vier.

Homoseksuele aktiviste propageer dat ‘alternatiewe’ lewenstyle soos homoseksualiteit, lesbianisme en geslagloosheid (wat dit ookal mag beteken) alles aanvaarbaar is binne ons gemeenskaplike menslikheid wat die onderskeie raskaraktertrekke, vel­kleur en etnisiteit insluit.

Die viering van ons verskeidenheid word dan ‘n selfbevredigende, seksueel-bedorwe aanvaarding van elke denkbare afwykende gedrag onder die vaandel ‘gemeenskaplike menslikheid’.

Nêrens in die Bybel gee God die opdrag dat ons ons verskeidenheid moet ‘vier’ nie. Die opdrag is egter ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’. Deur jou naaste se sondige leefstyl in al sy verskeidenheid te ‘vier’, is baie beslis nie Skriftuurlik nie.

EKSKLUSIEWE CHRISTENSKAP

Nog ‘n konsep wat inklu­sief en verenigend klink, is die term ‘Intergeloof‘. Luister maar na die regeringsinisiatiewe – daar word aangedring op intergeloofsdienste en –gebedsbyeenkomste. Die rede hiervoor is dat alle gelowe as dieselfde beskou word en dus dieselfde klem behoort te kry.

Om hierdie rede sien ons dikwels dat Christen-predikers saam met sangomas en toordokters by byeenkomste optree. Dit is verbasend hoe die taal van Babilon Christene laat glo dat die Christelike begrip ‘godsdiensvryheid’ dieselfde as ‘gods­diens­gelykheid’ is. Die Christelike geloof is in wese die geloof in die Persoon Jesus Christus as Redder en énigste Weg na die Vader. Hierdie teologiese feit onderskei dit van enige ander geloof.

EERLIKHEID ONONDERHANDELBAAR

Op grond hiervan het geen aardse verteenwoordiger van Jesus Christus die reg, gesag of die Bybelse opdrag om Hom gelyk te stel aan enige ander godsdienstige figuur nie. Jesus Christus staan alleen – Hy ís “die Weg, die Waarheid en die Lewe.” Joh 14:6.

Enige verteenwoordiger van die Kerk wat Hom verkeerd verteenwoordig op enige ‘intergeloofsbyeenkoms’, is nie in­klusief en verenigend nie, maar bloot oneerlik. Nêrens in die Bybel beskryf Jesus, of die profete wat Hom voorafgegaan het, Hom as ‘een van die baie weë om in die hemel te kom nie’. Daar is dus nie so-iets soos ’intergeloof’ nie, daar is net geloof in Jesus Christus.

KORREK VOLGENS DIE BYBEL

Hoekom praat die Kerk dan die taal van Babilon? Die eenvoudige antwoord is – politieke korrektheid (PK). Baie kerkleiers doen hul uiterste bes om kultureel relevant te wees in ‘n toenemend-humanistiese samelewing.

Ons wil die Evangelie verkondig, maar ons wil niemand aanstoot gee nie. Ons gooi dus alle verantwoordelkheid om Bybels korrek te wees, oorboord ten einde tog net polities korrek te kan wees.

Die wonderlike waarheid omtrent die Evangelie van Jesus Christus is dat dit altyd aanstoot aan die wat Hom nie aanvaar nie, sal gee. Daar is géén PK manier om ‘n persoon wat deur sy sonde op pad is hel toe, die Waarheid te vertel nie – hy moet sy sonde bely en laat staan! Hy moet weergebore word.

Ons praat dus hierdie Babiloniese taal in die hoop om PK te wees, maar in die proses verwater ons die Boodskap van die Bybel en die Reddingsboodskap van Jesus Christus. Die hele opdrag vir die Kerk in hierdie wêreld is dat die wêreld die taal van die Kerk moet praat – beslis nie andersom nie!


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)