Toe iemand vertel dat sy twintig tot dertig keer per dag vir haar en haar familie se veiligheid bid, het ek dadelik saamgestem. Ons leef immers in ’n gevaarlike land. Wie van ons is nie bekommerd oor ons geliefdes se veiligheid nie? Tog het ’n krapperigheid hieroor in my binneste agtergebly. Uiteindelik het ’n ongemaklike vraag of twee by my opgekom – die soort wat ek nie aldag wil hoor nie:
• Gaan my geloof meer oor my tydelike veiligheid as oor die eer van God?
• Het die daaglike realiteite van ons land my so verblind dat ek Christus se gevaarlike roeping verkeerd verstaan?
• Is jy sekuriteitsgedrewe?

Vermoedelik is ek nie die enigste een wat my behoefte aan veiligheid soms met God se werk verwar nie. Te veel gelowiges leef ‘sekuriteitsgedrewe’. Te veel kinders van God neem groot besluite uitsluitlik op grond van persoonlike veiligheid. Daarom moet ons ’n slag, wanneer ons as navolgers van Christus ons lewenskeuses maak en ons die lewe elke dag aandurf, die ongemaklike vraag aanroer of persoonlike sekuriteit die finale sê het.

Bang verskonings
Ter beantwoording van ons vraag, roep die Bybel van begin tot einde hardop uit dat ge-rief en veiligheid nooit ter sprake mag wees as die Here ons roep en uitstuur nie. Neem nou maar vir Gideon daar in Rigters 6. Hy was aanvanklik ’n regte bangbroek. Toe die engel van God by sy skuilplek opdaag, was hy behoorlik omgekrap, want nou was sy wegkruipertjiedae getel. Toe Gideon boonop hoor waarvoor hy ge-roep word, het hy ‘n rits bang versko-nings uitgeryg. Hy het erken hy was die swartskaap van die onbelangrikste familie in Israel. Om alles te kroon, het hulle nie eens in die Here geglo nie. Tog het God sy verskonings net daar in die hemelse asblik gegooi en hom as ’n dapper held in groot gevaar ingestuur. Die res van Gideon se verhaal is goeie geskiedenis.

Bereid om te sterf
Van gevaarlike sendings gepraat: eeue later het die profeet Agabus die Apostel Paulus se gordel geneem en geprofeteer dat die gordel se eienaar (Paulus) in Jerusalem gevange geneem sal word. Dadelik het Paulus se helpers die veilige opsie gekies. Lukas vertel in Handelinge 21 hulle het gedink dat dit God se wil is dat die Apostel sy persoonlike veiligheid eerste moes stel. Paulus het drasties verskil. Hy het geantwoord dat hy nie slegs bereid is om in Jerusalem gevang te word nie, maar om ook vir Christus te sterf.

Die hoogste prys betaal
Terwyl ek aan Paulus dink, onthou ek vir Werner Groenewald. Einde November 2014 is hy en sy kinders wreed deur Taliban-ekstremiste in hulle huis in Kaboel vermoor. Werner het op ’n keer gesê: “ ‘We only die once, so it might as well be for Jesus!’ ” Die Groenewald-gesin het Christus eerste gestel en die hoogste prys hiervoor betaal. Tog het Christus hulle reeds feestelik in Sy ewige hemelse woning ontvang.

’n Unieke lewensbeker vir elkeen
Genadig is ons almal se aardse roete nie so rof soos Paulus of Werner-hulle s’n nie. Dit hoef ook nie die geval te wees nie, want ons het elk-een ’n unieke lewensbeker om te drink. Niemand is ’n fotostaat van ’n ander nie; daarom moet ons so gou moontlik daardie unieke roete ontdek wat ons hier op aarde saam met Christus moet aflê. Ons moet ook daardie beker vind waarop slegs ons naam gegraveer is en dit enduit leegdrink. O ja, persoonlike veiligheid of gerief is nooit hierop gegraveer nie. Wat Jesus ons elkeen wel waarborg, is Sy voltydse nabyheid en vreugde. Hy sal al die dae van ons lewe by ons wees, of ons nou deur ’n donker dal moet worstel, en of ons in groen weivelde rus.

Sien verantwoordelik om na veiligheid
’n Laaste vraag: moet ons as navolgers van Jesus alle veiligheidsmaatreëls oorboord gooi? Nee, glad nie! Ons moet op verantwoordelike maniere omsien na ons en ons gesin se veiligheid. Dit mag egter nooit ‘n obsessie raak, óf ons geloof in gedrang bring, óf ’n deurslaggewende faktor in ons besluite word nie.

Christus, ons ewige hoop
Jesus het ons leer bid: “Bewaar ons van die Bose!” Dit moet ons elke dag vir ons geliefdes, onsself en ons land doen. (Terloops, hierdie gebed is nie dieselfde as om vir ons persoonlike veiligheid te bid nie!) Ons moet glo dat God die Hoorder van ons gebede is en ook saam met Hom op hoë plekke loop. “Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.” Hab 3:19. Ook moet ons elke dag onthou dat ons aan Christus behoort! Hy is ons enigste troos. Hy is ons ewige hoop!


PROF. STEPHAN JOUBERT is die stigter van ekerk, ’n professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Noordwes en Radboud Universiteit te Nijmegen. Vir meer inligting: www.ekerk.org, of info@ekerk.org

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)