– deur Ruth Isaacson

Ek het verlede week in die supermark agter ’n ou man in die tou gestaan om te betaal en so bietjie met hom ge­sels. Terwyl hy so in sy kruideniersware ge­vroetel het, het hy gesê: “Oudword is beslis nie vir papbroeke nie!” En dit is tog só waar. Hoe meer ek ouer mense en hul pro­bleme sien, hoe ‘dieper’ word die stelling wat hy gemaak het.

IS EK NOG NODIG?

Dit som ook, in ’n mate, my eie gevoe­lens op. Besef enigiemand anders wat die onuitge­sproke gedagtes en gevoe­lens van diegene wat ouer word, is? Dink en voel ander ouer mense ook soos ek dink en voel? Is hulle bang, het hulle vrede gemaak met hul omstandighede? Met God? Met familie? Daar is sekere dinge waaraan ’n mens nooit eers dink voordat die jare nie ongemerk heelwat meer word nie. Wat van aftrede? Die span agterlaat? My onafhanklikheid verloor? Nie meer nodig wees iewers nie? Wat kan ek doen wat nog betekenis sal hê?

Die mees ‘gehei­me’ emosie wat ervaar word, is die leë-nes-sindroom wanneer jou kinders die huis verlaat om self hul potjies in die wêreld daarbuite te gaan krap. Deesdae verlaat kinders ook nie net meer die huis nie, hulle verlaat ook sommer die land. ’n Mens is verlig om te hoor dat hulle iemand bekend daar ‘oorkant’ raakloop en dat hulle oorleef – hul vryheid geniet. Maar ons bid steeds.

BEKOMMERNISSE

Die ouer garde is bekommerd oor en stel belang in wat die kinders doen, wie hulle ontmoet, wie hulle beïnvloed en watter waardesisteem hulle aanhang. ’n Mens het ander bekommernisse ook: Het hulle my nog nodig? Sal hulle my ooit weer nodig kry? Eintlik is ek nou maar redelik op my eie – waar pas ek nou eintlik in die prentjie in? Waaroor gaan die lewe nou nog?

Prediker praat van alles wat eintlik maar ‘nietigheid’ is – en dit is die gevoel wat my ook dikwels oorweldig. Jy het nou jou diens in liefde, toewyding en opoffering gedoen en nou? Nou sit jy hier en wat nou? Wonder jy nou maar hoeveel tyd jy nog op aarde oor het? Dit is die gedagte waarmee ’n mens dikwels wakker word. Aan die einde van elke dag behoort daar dankbaarheid te wees ten spyte van die feit dat jy dalk baie moeg is.

Dan dink ek gewoonlik aan die dinge wat ek nié goed gedoen het nie, die kanse wat verspeel is, die geleent­hede om te getuig wat nie gebruik is nie, die probleme (te baie om te noem) wat ek moes hanteer. ’n Mens kan egter nie in die verlede leef nie, jy kan tog niks ongedaan maak nie. As ek selfs aan die goeie dinge wat oor my pad gekom het, dink – die seëninge en genade – dan besef ek dat ek eintlik maar bitter ‘gewoon’ is.

DIE REIS DUUR VOORT

Is daar nog hoop in jou hart dat jy eendag belangrik of bekend sal wees of dat jy dalk iets gedoen het wat vir altyd onthou sal word? En die liefde wat jy vir die kinders koester? Die beste wat ons kan doen, is om vir hulle welsyn, vrede en voorspoed te bid – dat hulle lewens goed sal verloop en dat hulle goeie gesondheid sal geniet en finansieel goed daaraan toe sal wees.

Die jong ma wat haar dogtertjie in die babawaentjie stoot: waardeer sy wat sy het? Op een stadium het ek so ’n oorweldigende verlange na daardie spesiale tyd wat ek met elk van my kinders gehad het, ervaar. Dit het my ’n gevoel van intense betekenis en doel in die lewe gegee.

VERBEELDING?

Gesondheid speel ook ’n belangrike rol. Op hierdie stadium herinner al die kleiner en groter pyne en die ellelange lys met ‘nuwe, fantastiese kure’ wat die ouderdom teenwerk, my daaraan dat die uiterlike besig is om te vergaan. ‘Net een dag op ’n slag’ kan taamlik bedreigend klink en kan maklik moedeloosheid tot gevolg hê. En dan onthou ek: “Tog is U die Heilige wat woon waar Israel U prys.” Ps 22:4. Ek prys Hom en Hy kom nader? Fantasie? Verbeelding? Nee… dis selfs werkliker as die nabyheid van diegene in my onmiddellike omgewing! Dan doen ek wat my hand vind om te doen, alles doodgewoon… skoonmaak, lees, kosmaak, kuiertjies by wonderlike mense wat die Here ken en opreg liefhet.

GEEN EWIGHEIDSVREES NIE

Ons is op pad na die Ewigheid en ons besef dit is onafwendbaar, maar ons het nie ’n vrees daarvoor nie. Die Here se teenwoordigheid bied te alle tye heerlike gerusstelling: Hy bied vrede en ek het nie nodig om enigiets aan Hom te bewys nie. Al wat ons kán doen, is om Hom met ons hele hart, siel en verstand lief te hê en te wees presies dít wat Hy ons bedoel het om te wees.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)