–deur Bennie Mostert

Die persoon wat sê hy sal niks anders wil doen as wat hy tot nou gedoen het as hy sy lewe kan oorkry nie, weet nie wie hyself is nie en is bloot net sonder insig. God gee ons die genade om oor te kan begin.

NET GOD WEET

Wanneer ons oor begin, moet ons eers vra wat verkeerd geloop het en hoekom. En dit weet nét die Here. Hy alleen kan dit vir ons wys. Daarom moet ons tyd neem om Hom te vra. Moenie eers na ander toe gaan en vir hulle vra nie. Gaan vra vir God. Dit is ‘n ‘humbling experience’. Ons moet erken dat ons verkeerd gedoen het, nie genoeg gedoen het nie, selfsugtig en genadeloos gedoen het, ons eie ding gedoen het, onsself eerste gestel het. Wanneer ons dít kan erken en dit duidelik weet, is ons by die begin van wéér begin.

NIE VANUIT JOUSELF NIE

Daarom beteken nuut-begin om met ver­ootmoediging, skulderkenning en gebrokenheid te begin. En baie van ons wíl nie, want ons wil nie dat mense sien hoe ons regtig is nie. Ons begin dus vanuit onsself: “Hierdie keer sal ek myself, vir jou en alle ander mense wys ek kan.”

En juis dít is die eerste tree vir ons volgende mislukking. Daar is mos van­dag die bekende uitdrukking wat uit die laaste Amerikaanse presidentsverkiesing kom: ‘We will because we can!’ Dit is tipies van wat ons mense dink: ‘ek wil, daarom kan ek’. God sê: jy kan nie, maar as Ek en jy dit saam doen, dán kan jy. Wanneer ek dít weet, gaan ek na God toe en sê vir die Here ek kan nie. Die begin van ‘n nuwe begin vir ons as Christene, is om te sê: ‘Ek kan nie; al wil ek ook.’

STAAN OP AS JY GEVAL HET

Mislukking is ‘n gegewe. Die verskil is die mense wat opstaan wanneer hulle geval het. Ons het volharding nodig. Die Skrif roep ons oor en oor op om te volhard. Iemand het gesê: “Perseverenance is long obedience in the same direction, it is a series of new beginning.”

LAAT DIE VERKEERDE AGTER

Om nuut te begin, beteken dikwels dat ons moet ophou om sekere dinge te doen sodat ons ander kan doen. Wat doen ons met ons lewe? Doen ons dinge waarvoor God ons gemaak het? Wanneer ons Matt 6:33 lees, staan daar letterlik: ‘Die eerste ding om te doen, voordat jy enige ander ding doen: soek die koninkryk van God.’

Koninkryk eerste

As ons weer wil begin, nuut begin, moet ons begin by die plek waar God sê ons moet begin: om die Koninkryk te soek. Te dikwels soek ons baie dinge, waarvan nie een daarvan noodwendig verkeerd of sondig insigself is nie, maar wat nie ‘die eerste ding’ is wat ons moet doen nie.

En wanneer ons weer wil begin, is dit belangrik om seker te maak dat ons die eerste dinge éérste sal doen. Dit is baie keer omdat ons op die verkeerde punt nuut wil begin, dat ons nie op daardie terreine slaag nie. Hoe eindeloos tragies, frustrerend en nutteloos is dit nie om nuut te begin, maar op die verkeerde plek te begin nie.

BEGIN OP DIE REGTE PLEK

Begin nuut deur jou kamerdeur toe te maak (of alleen ie­wers te gaan sit) en die Here te vra of die eerste dinge alreeds eerste in jou lewe is. Laat Hom toe om jou te wys. Moenie met God argumenteer oor wat Hy vir jou gaan sê nie. Luister en doen dan wat Hy vir jou sê.

Vra Hom nou tweedens vir krag om te doen wat Hy van jou verwag. En eers daarna, wanneer die eerste dinge op hulle regte plekke is, vra jy Hom watter ander dinge daar is wat jy óór moet begin, weer moet begin, vir die eerste keer moet begin. Hy sal jou wys. Vra vir Hom wat Hý dink die dinge is wat jy oor moet begin.

Daar mag areas wees waar jy dink dit sal help om daar ‘n nuwe begin te maak, maar die Here kan jou ‘n ander area wys – begin dan daar. Soms word ons voorkeure vir ‘nuut-begin’ deur ons eie hoogmoed, selfsug en verleentheid bepaal. As ons egter by die punt begin waar God wil hê ons moet begin, sal die meeste van die ander dinge self regkom.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)