–deur dr. Dirk Herman

In ʼn tyd vol politieke spanning en onsekerheid is die vraag waarop mens altyd moet terugval: wat is die regte ding om te doen? Dít is die eenvoudige toets van moraliteit – word die regte ding gedoen? Ek kan dit ook anders stel: het ʼn gemeenskap wysheid?

WYSHEID IS ‘N AKSIE

Ons soek dus ʼn wyse samelewing. Daar is baie geskryf oor wysheid, maar wysheid op biblioteekrakke is geen wysheid nie. Indien ʼn gemeenskap ʼn grondwetlike demokrasie het, waar die reëls van reg en verkeerd in ʼn Grondwet vervat is, is die gemeenskap steeds nie ʼn wyse gemeenskap nie. Die gemeenskap sal eers wys word wanneer die Grondwetlike waardes op papier hulle eie waardes word. Wysheid word ook nie net gelees of geskryf nie. Wysheid word gedóén. Jy moet dus nie net die regte dinge glo nie, maar die regte dinge dóén.

ONS WYSHEID IS IN CHRISTUS

Salomo is bekend vir sy wysheid. Die geskiedenis oor die verkryging van sy wêreldberoemde wysheid is goed bekend. God het in ʼn droom aan hom verskyn en gesê hy mag begeer wat God aan hom moet gee. Hy antwoord toe: “Gee my tog dan wysheid en kennis sodat ek hulle reg kan regeer, want wie kan hierdie groot volk van U reg lei?” 2 Kron 1:10. Dít is ware wysheid. Wysheid is dus die vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei. Die mens het sy wysheid verloor, die oomblik toe Adam en Eva hulle vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei, verloor het en was daarna geneig tot die kwaad.

Christus het vir hierdie staat van onwysheid ingetree en die mense kan nou deur Christus in wysheid optree. Die bron van ons wysheid lê dus nie in onsself nie, maar in Christus. Die oomblik dat ons bron van wysheid onsself raak, verval ons telkens in onwysheid, want ons het in Adam ons wysheid verloor.

WYSHEID IS GEHOORSAAMHEID

Wysheid beteken ook om gehoorsaam te wees aan reëls of wette wat vasgestel is. Morele wette is die beginsels wat bepaal wat reg en verkeerd is. Die verskil tussen ʼn morele wet en ʼn natuurwet is dat ʼn morele wet vir die mens sê wat die mens behóórt te doen, waar die natuurwet byvoorbeeld iets is soos die gravitasiewet, dit wil sê, die wet kan nie oortree word nie.

As iemand van die dak afspring sal hy val. ʼn Morele wet kán oortree word, maar dit behóórt nie oortree te word nie. Die vraag na moraliteit is dus die vraag na wat behóórt ʼn mens te doen in ʼn sekere situasie. In die etiek is dit die studie van Deontologie – die bepaling van wat die regte optrede in ʼn bepaalde situasie is.

 

BEHOU MORELE HOË GROND

Die metode van bepaling geskied deur middel van drie vrae. Die eerste vraag is die ‘kan’- vraag, die tweede vraag die ‘mag’-vraag en die derde vraag die ‘behoort’-vraag. Die derde vraag is daardie wysheidsvraag  ̶  is dit reg? Die toets kan byna op enige gebeurtenis van toepassing gemaak word.

Om dit prakties te maak, gaan ek dit op die destydse moord op Eugene Terre’Blanche van toepassing maak. Die Terre’Blanche-moord het  ʼn streep rassisme in Suid-Afrika laat losbars. Op Facebook kon mens die rou rassisme sien. Mense het gereageer binne die konteks van die Malema-lied en die hoë vlakke van rassisme.

 

EIS VIR MORELE HOË GROND

Behóórt hulle rassisme met rassisme te beveg het? Nee, indien jy rassisties reageer op rassisme, verloor jy jou morele hoë grond en dop jy die toets van moraliteit. Jy moet met wysheid die rassespanning van vandag hanteer. Dit beteken jy moet die régte ding doen, doen wat jy behóórt te doen.

Tree op, maar behou die morele hoë grond! Om nog ʼn voorbeeld te gebruik gaan ek die wysheidstoets op die hele destydse  kontroversie rondom die Julius Malema-lied van toepassing maak. Die ANC het sterk gevoel dat hy mág en gesê dit kan in elk geval nie gekeer word nie.

 

MORALITEITSTOETS GEDRUIP

Daar word ook geargumenteer dat dit deel van hulle historiese skatkis is en daarom mág hulle. Die moraliteit van die lied word egter getoets aan die derde vraag: behóórt die lied gesing te word? Daar is die antwoord eenvoudig  ̶  nee! Die lied struikel op die ‘behoort’-vraag en die sing daarvan is immoreel.

Selfs die instellings van die Suid-Afrikaanse demokrasie wat moet waghou oor reg en verkeerd, het al uitspraak gegee oor die strekking van die lied. Die Menseregtekommissie het dit as haatspraak verklaar. Twee howe het al interdikte gegee teen die sing van die lied.

 

SEKULÊRE SAMELEWING

Suid-Afrika het gekies vir ʼn sekulêre samelewing en het besluit op ʼn grondwet as hoogste beskermer van moraliteit. Die grondwet is die uiteindelike maatstaf van reg en verkeerd. Dit is hoekom die regstaat die kernpilaar van ons grondwetlike demokrasie is.

Die grondwet en die handves van menseregte sê aan die Suid-Afrikaanse samelewing, hier is julle morele kompas en as daar ʼn dispuut oor die kompas is, dan gee ʼn regter uitspraak.

Die enkele grootste probleem van regstaat-moraliteit is dat dit geëksternaliseerde moraliteit en nie geïnternaliseerde moraliteit is nie. Met ander woorde, dit is moraliteit wat nie van binne kom nie, maar deur ʼn stelsel. Die stelsel skryf aan ons ons morele kompas voor en nie ons interne geloof nie.

 

CHRISTENE IS MORELE SUURDEEG

Dit bring ons by die rol van die Kerk. ʼn Grondwet kan nóóit die morele kompas van die samelewing wees nie. Al word dit deur sommiges byna as ʼn godsdiens voorgehou, is dit eenvoudig nie so nie. Nog minder kan ʼn ideologie ʼn morele kompas wees. Die Kerk moet selfvertroue kry en Christelike moraliteit verkondig. Christelike wysheid is ʼn kragtige boodskap waar die reg oorwin het. In Christelike geregtigheid ken ons die Waarheid en moet ons dit leef. “Hy het reeds gesê wat reg is. Die Here verwag van julle om reg te laat geskied, om liefde en trou te bewys, en om nederig voor julle God te lewe.” Miga 6:8.

Kerke moet mense met die Woord vervul sodat ons ʼn samelewing vol geesvervulde mense het. Hoekom bely Christene in die kerk dat die waarheid in Christus is, maar na buite wil hulle dit nie verkondig nie. Glo ons dit dan nie? Christene moet suurdeeg word en moraliteit in die samelewing leef en doen.

 

VAKUUM VIR LEWENS­BEDREIGENDE GEDIERTE

Die Kerk en Christelike geloof is gereeld onder aanval. Dit het deesdae mode geraak om die kerk as instelling se gesag aan te val. Aan diegene wat die voorste koorsangers teen die kerk is, sê ek: ‘Stop dit!’ Julle weet nie hoe die gedierte lyk waarvoor julle ʼn vakuum skep om te vul nie. Moenie die predikers en draers van Christelike moraliteit, hoop en geregtigheid slag nie. Julle mag dalk ʼn gemeenskap sonder moraliteit en met wanhoop en ongeregtigheid kry.

 

MORELE RATKASOLIE NODIG

Ek sluit af oor die rol van ‘mekaar’, of in ander woorde: ‘die gemeenskap’. Ons moet ʼn gemeenskap vir mekaar wees. In moeilike tye moet mense mekaar opsoek. Pasop om nie jou heil by jouself te soek nie, hierdie soort individualisme kan jou net in ʼn posisie plaas waar jy nie meer deel is van ʼn ‘mekaar’ wanneer ʼn ‘mekaar’ nodig is nie. Kom ons wees ʼn wyse gemeenskap en doen die régte dinge. Die gemeenskap het self die verantwoordelikheid om die regte dinge te doen.

Indien ons geroep word om die regte ding te doen, kán jy nie redeneer dat jy nie jou roeping kan uitvoer nie, want die staat doen die verkeerde ding nie. Dit is bloot die ontduiking van jou roeping.

 

KARAKTERTOETS

Dit is juis in moeilike omstandighede waar jy die régte ding moet doen. Karakter word getoets om morele dinge te doen in ʼn omgewing waar dit aanvaarbaar raak om die immorele te doen. Suid-Afrika vra vir morele olie om sy ratte glad te laat loop. Ons hoor tans yster op yster, want die olie is op.

Mag elke Christen bydra om ons ratte weer glad te laat verloop. Mag ons wysheid kry, ons het die sekerheid van hoop. “Julle moet die bose haat en die goeie liefhê. Sorg dat regverdigheid in die howe seëvier. Miskien sal die Here God, die Almagtige, nog genade hê vir die wat oorgebly het…” Amos 5:15.

 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)