-deur Angus Buchan

Ek het onlangs ’n baie interessante boek van die bekende Suid-Afrikaanse sportwetenskaplike, professor Tim Noakes, gelees. In hierdie boek bespreek hy die fisieke eienskappe van sportmanne wat uitblink en die motiverende faktore wat daartoe bydra om ’n sportkampioen te word. Hy verklaar dat dit ’n sportman se geloof in homself is wat die goue medalje vir hom verower.
Die fisieke eienskappe van ’n uitstekende atleet of sportman dra eintlik maar ’n klein deeltjie tot sy sukses by. Professor Noakes gebruik die 1995 en 2007 Rugby Wêreldbeker-toernooie as vernaamste voorbeelde vir manne wat in hulleself geglo het en vas oortuig was dat dit vir hulle bestem was om die wêreldbeker te wen. Die resultaat was dat hulle beide kere die beker huis toe gebring het.

Kampioene van die Kruis
As gelowiges, sê ons ’n luide “Amen” op sy stelling, maar voer dit verder. Ons sê dat dit Christus in ons is wat alles moontlik maak; ons word kampioene, nie deur ons eie toedoen nie, maar deur geloof in God en deur Sy wonderlike genade. Paulus sê in Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Dus, fisieke oefening is tot groot voordeel, maar dit is ook belangrik om geestelik sterk te bly. Die tyd wat in die ‘binnekamer’ bestee word, is waar die kampioene van die Kruis gevorm word. Dit is Christus in ons wat die “hoop op die heerlikheid is” (Kol 1:27).

God gebruik ‘nobodies’
’n Rukkie gelede het ek ’n konferensie bygewoon waar ’n oorsese spreker oor ‘somebodies and nobodies’ gepraat het en uitgewei het oor sy persoonlike oortuiging dat niemand ooit ’n resiesperd van ’n donkie kon maak nie en dat baie min mense wat ’n ‘niemand’ is, ooit ’n ‘iemand’ word. Ek kan nie met hom saamstem nie, want ek het gesien hoe God telkemale ’n don-kie neem en dit in Sy resiesperd verander. Ek het ook gesien hoe God ’n onbenullige persoon neem en hom/haar vir Sy koninkryk aanwend waar hulle baie vir God vermag.

Jy sal jou doelwit bereik
Nou wil ek graag ’n woord aan jongmense rig. Jongmense, wat hoopvol is en drome koester, met hoë verwagtinge van die lewe. Hulle is diegene met soveel lus vir die lewe, maar word dikwels ontmoedig deur mense wat hulle wil oortuig dat hulle nooit hulle drome sal verwenslik of hulle doelwitte sal bereik nie omdat hulle ‘onrealisties’ is.
Ek wil julle bemoedig: Jy sal jou doelwit bereik as jy in jouself sal glo, maar belang-riker is dat jy in Christus ín jou glo. Onthou die bokskampioen is dikwels nie die een met die hardste opstopper nie, maar die een wat opstaan nadat hy daardie vuisslag gekry het en kan aanhou veg.

Moenie moed opgee nie
Rocky Marciano was een van die kleinste swaargewigkampioene ter wêreld. Hy was net onder die ses voet lank en het maar 83,9 kg geweeg. Hy was eintlik eerder ’n liggewig en tog is hy die enigste bokser in die geskiedenis van die sport wat nooit ’n professionele geveg in sy loopbaan verloor het nie. Hy het 49 keer geveg en 49 gevegte gewen. Die geheim? Hy het vas geglo dat hy dit kon doen, daarom kon hy elke teenstander ontsenu omdat hy net aanhou opstaan en terugveg het. Sy teenstanders kon hom net nie onderkry nie en Marciano het telkens as die kampioen uit die stryd getree.
Moet dus nie opgee nie en moenie die klein begin onderskat nie. God stel nie belang in jou vermoëns nie, maar in jou beskikbaarheid. Jesaja 40:31 lui: “Maar dié wat op die Here vertrou kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” Wanneer ons op die Here wag, vind ons dat Hy ons die potensiaal geskenk het om ’n kampioen in die lewe te word.
As gelowiges het God ons alles geskenk wat ons benodig om ‘kampioene’ op elke gebied van die lewe te wees; ’n wenner, een wat nie opgee nie. Laat ons opstaan en aan die gang kom vir die Here. Laat ons mekaar aanmoedig om ons bes te doen en ’n kampioenambassadeur vir ons Koning te wees.

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)