– deur Mary Southerland

Toe ek nou onlangs by die parkeerterrein van ons naaste winkelsentrum inry, het ek dadelik die oop parkeerplek naby die ingang gesien en reguit soontoe gery. So vyftig meter van die parkeerplek af, sien ek hoe ‘n vrou in die parkeerplek staan en vir ‘n man – waarskynlik haar man – beduie toe hy met ‘n groot swart motor om die hoek gery kom. Ek het dadelik besef sy was besig om ‘my’ parkeerplek vir haar en haar man toe te eien.

En as sy dan nou gewillig is om haar lewe op die spel te plaas daarvoor, wel… dan moet hulle maar liewer die parkeerplek neem. Die bestuurder reg agter my het egter nie soos ek gevoel nie. Hy het blitsig sy neus voor die swart motor ingedruk, die vrou rakelings misgery toe sy vinnig op die sypaadjie gespring het en ewe kordaat parkeer. Gebare en vieslike woorde het oor en weer gevlieg en ek het weer besef dat ons in ‘n wêreld vol woedende mense bly.

WOEDE IS NORMAAL

Almal word op een of ander tyd siedend kwaad. Ons moet egter leer om ons woede te beheer anders gaan dit óns kort voor lank beheer. Woede is kragtig; dit is ‘n emosionele waarskuwingsflits wat skree: “Iets is verkeerd! Ek is gefrustreerd! Ek is seergemaak! Iets beter verander of ek gaan beheer verloor!” Woede op sigself is nie sonde nie. Die Apostel Paulus het geskryf: “Moenie sondig as jy kwaad word nie.” Ef 4:26.

God het ons geskape met die vermoë om kwaad te word, maar Hy het dit ook moontlik gemaak om kwaad te word en tog nié te sondig nie. Die geheim is om te leer hoe om woede reg te verwoord, om dit te bestuur en te beheer. Dan word woede ‘n gereedskapstuk ten goede en nie ten slegte nie. Woede wat verkeerd bestuur en beheer word is nie net destruktief nie, maar ook belemmerend – omdat dit dikwels God se geregtigheid verhinder. Deut 32:35 lees: “Ek sal wraak neem. Dié wat dit verdien, sal Ek terugbetaal.” Ek sal veel eerder wil sien dat diegene wat my woedend maak, hulle God se toorn op die hals haal as myne.

GOD SE PLAN VIR WOEDEBEHEER

Toe ons seun, Jered, nog klein was, was hy versot daarop om aan projekte saam met sy pa te werk, veral as dit enigsins houtwerk ingesluit het. Elke keer wat Dan na die garage gemik het, was Jered reg agter hom. Sodra Dan dan sy kraggereedskap uitgehaal het, sou Jered sy plastiekgereedskap uitpak. Jered het sommer baie gou moeg geraak om met die plastiekgoedjies te werk en vir sy pa gesê dat hy ook met die kraggereedskap wou werk. Dan het langs hom gekniel en gesê: “Wys my gou jou hande.” Jered het sy klein handjie bo-op sy pa s’n gesit en half-verwonderd opgemerk: “Pappa, jou hande is sommer baie groter as myne.”

Dan se reaksie? “Dis reg my kind. Daardie groot kraggereedskap is bedoel vir baie groot hande. Hulle is te groot en te kragtig vir jou handjies. Jy sal beslis seerkry as jy daarmee werk.” God het ons met emosies geskape. Dit beteken dus ook dat Hy die regte plan en die regte plek vir emosies in ons lewens het.

Woedebeheer is geestelike dissipline wat deur God geëer, geseën en bekragtig word. Moenie toelaat dat woede ‘n plek in jou hart kry nie! Hier is ‘n paar wenke wat moontlik kan help dat jy jou woede reg bestuur.

  1. WORD RUSTIG

“Wees stil en weet Ek is God.” Ps 46:11. Hoe besiger ons is, hoe moeiliker is dit om die ware rede van ons woede te hanteer. Woede wat nie reg hanteer word nie, bou op en het bitterheid tot gevolg wat net onder die oppervlak van alles wat ons dink, doen en sê te bespeur is. Ons behoort gereelde ‘rusplek­ke’ in ons besige skedules in te bou – tyd waarin ons rustig kan wees en weer God se stem kan hoor.

  1. RAAK STIL

“Wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie gou om kwaad te word nie.” Jak 1:19-20. Ons eerste reaksie op konflik is dikwels nie eers ‘n antwoord nie, maar gedrag wat vergelyk kan word met olie wat op vuur gegooi word. Ons heel eerste reaksie behoort te wees: stop, dink en bid in plaas daarvan om op só ‘n manier te reageer wat spanning net verder kan laat toeneem.

  1. ONDERSKEI

“Moenie sondig as jy ontsteld is nie. Oordink dit in die nag op jou bed en wees rustig.” Ps 4:5. Hoe langer ek met mense werk, hoe meer besef ek daar is altyd ‘n rede vir hulle gedrag. Mense wat seergemaak is, maak ander seer. As jy woedend is vir iemand, vra jouself af ‘waarom?’ Dink baie goed na oor wat tot die konflik aanleiding gegee het. Dink ook baie goed na oor waarom jý ontsteld is en hoe jy dit op die effektiefste manier behoort te hanteer.

  1. TOON BEGRIP

“Wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie…” Jak 1:19. Daar is baie beslis ‘n rede waarom ons met twee ore, maar slegs een mond geskape is – ons behoort twee keer beter te luister as te gesels.

As jy agterkom dat woede aan die opbou is, maak tyd om goed te luister na wat die ander persoon te sê het en herhaal dit om seker te maak jy weet presies wat die ander persoon bedoel. Moenie antwoord voordat jy nie die inligting geprosesseer en jou emosies onder beheer het nie. Luis­tervaardighede is baie belangrik wanneer woedebeheer ter sprake is.

  1. WEES VRIENDELIK

“’n Vriendelike antwoord kalmeer die ge­moedere, ‘n dwars antwoord laat woede opspring.” Spr 15:1. Die volgende keer wat iemand jou weer kwaad maak, glimlag! Dit is bitter moeilik om kwaad te bly terwyl jy glimlag. Dit is een van die beste en bekos­tigbaarste woedebeheerwenke wat daar is. Jy kan dit net mooi enige tyd, oral en teen­oor enigiemand gebruik. Die volgende keer wat jy kwaad is, kies om vriendelik te glimlag, of begrip te toon of geduld aan die dag te lê en luister na die ander kant van die storie.

  1. WEES GEREED

“Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” 1 Pet 5:8. Die heel beste manier om woede te beheer, is om dit in die eerste plek te verhoed. Hoe? Balanseer jou ske­dule en prioritiseer sodat jy nie voortdurend moeg en gefrustreerd is nie. Vermy dit ook om in woedende mense se teenwoordigheid te wees. Spr 22:24 is baie duidelik: “Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie; bly ver weg van een wat ongeduldig is.” Bid voortdurend, vra die Heilige Gees om jou te help in die aankweek van gewoontes wat vrede stig – nie woede nie. Memoriseer Bybeltekste. Die Woord van God is ‘n kragtige wapen in die hante­ring en bestuur van ons emosies.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)