–deur Toi Nell

Duisende jare gelede, selfs nog voor die eerste stede gevestig is, was daar al suiwelboere, maar anders as ons suiwelboere deesdae, was hulle nomadiese herders. Moeilik om in ons moderne tye te glo, maar kaas het juis a.g.v. hierdie leef­wyse, heel ‘toevallig’ ontstaan.

Generiese benaming

Kaas is die generiese term wat vir ’n diverse groep melkgebaseerde voedselprodukte gebruik word. Kaas bestaan uit proteïne en melkvet. Gewoonlik word melk van koeie, buffels, bokke of skape hiervoor gebruik. Die melk word versuur en die byvoeging van die rennien-ensiem veroorsaak verdikking. Die vaste stowwe word geskei en in ’n finale vorm gepers.

Vroegste geskiedenis

Kaas is ’n kossoort uit antieke tye wat reeds voordat die geskiedenis opgeskryf is, geëet is. Argeologiese opgrawings van die hooglande van Israel en Juda het getoon dat die eerste Israeliete reeds in die Twaalfde Eeu v.C. daar gevestig was en binnehowe direk langs hul huise gebou het waar die diere snags geslaap het. Koeie kon slegs in valleie waar dit plat, wyd en vrugbaar was, soos bv. die Saron-vlakte, die Jisreël-vallei en ook Basan, vandag bekend as die Golan-hoogte, wei. Die droë dele van Israel was egter net geskik vir skape en bokke wat dié klimaat met sy spesifieke plantegroei kon oorleef. Skape en bokke met hul spesifieke bou, leef op die weiding wat in die droë dele te kry is. Die hardste blare van die plante, selfs boombas, was deel van hul dieet. Bokke, en in ’n baie kleiner mate skape, was dus ’n algemener melkbron in daardie tye. Suiwelboerdery was ’n arbeidsintensiewe aktiwiteit waarby mans sowel as vrouens betrokke was.

Die eerste kaas

Volgens ’n baie ou legende is kaas heel toevallig ongeveer 4 000 v.C. deur ’n jong skaapwagter ontdek. Hy het agtergekom dat die melk onder in sy leersak gegis het. Omdat hy baie dors was, het hy die water wat deur die geswaai van die leersak ‘uitgekarring’ is, gedrink en dit was vir hom baie lekker. Die leersakke waarin die melk vir die reis was, is gewoonlik van die pensvel van skape of bokke gemaak.

Natuurlike ‘karrings’

Dit was ook sommer die heel eerste ‘karrings’. Tydens die reis het hierdie sakke heen-en-weer geswaai. Die melk wat mettertyd versuur het, se vog is op ‘natuurlike’ wyse uitgekarring. Die verdikte melkafsaksel was die eerste kaas in die geskiedenis. Kaas, soos in 1 Sam 17:18 en 2 Sam 17:29 genoem word, is waarskynlik ’n melkproduk wat saamgepers is en in die son gedroog is. Die kase van hierdie vroeë tye was waarskynlik baie suur en sout, baie soos die eerste onverfynde maaskaas of feta wat gemaak is.

In Romeinse tye was kaas ’n stapelvoedsel en die maak daarvan is tot ʼn groot kuns vervolmaak.

Namate die Romeine wêrelddele verower het, het hulle ander kulture, tradisies en kase leer ken. Geleidelik het die verskillende kase en smake versprei en het ons die huidige gekultiveerde ‘kaaskuns’ waaraan ons deesdae gewoond is. Die heel eerste fa­briek waar kaas industrieel geproduseer is, het in 1815 in Switserland geopen. Fabrieksvervaardigde kase het in die Tweede Wêreld­oorlog tradisionele kaasmakery in gewildheid verbygesteek.

Die simboliek van suiwel in die Bybel

Die sorg van die trop bokke of skape was in Bybelse tye ’n voortdurende en soms uiters gevaarlike taak. Lees maar net 1 Sam 17:34-36 en Gen 31:38-41 in dié verband. Van Psalm 23, Eseg 34 tot by Joh 10 word in besonderhede beskryf watter sorg die herder aan die dag gelê het wanneer dit by die versorging van die trop kom.

Die herder is die Bybelse argetipe vir die versorger en die leier van die geestelike ‘trop’. Die trop se noodsaaklike produk, melk, is ook ’n simbool. In Joël 3:18 is dit die simbool vir oorvloed terwyl Klaagliedere melk as simbool vir reinheid gebruik.

Gesondheids- en voedingswaarde

  • Oor die algemeen is kaas hoog in kalsium, proteïne, fosfor en vet.
  • Volgens sekere navorsing kan cheddar, mozzarella, Switserse en Amerikaanse kase help om tandbederf te voorkom.
  • Navorsing deur die Britse Kaasraad in 2005 oor die effek wat kaas op slaappatrone en drome het, was verrassend omdat daar vasgestel is die inname van kaas werk positief op slaap in. Deur kaas kort voor slapenstyd te eet, kan ’n baie goeie nagrus tot gevolg hê.
  • Sommige toon egter sekere allergiese reaksies op die amiene in kaas en dit kan hoofpyn, veluitslag en bloeddrukfluktuasies tot gevolg hê.
  • Tydens die hele kaasmaakproses word die kaasproteïen gekonsentreer en wei bly agter
  • 5 liter vars melk lewer sowat 750 gram kaas
  • Wei kan as aftreksel in sop en bredies gebruik word

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)