–deur Marius Nel

Afrikaanssprekendes het tradisioneel Sondae kerk toe gegaan. Hier is hulle kinders gedoop, het die kind Sondagskool toe gegaan en later gekatkiseer, is as lidmaat aangeneem en voorgestel. En die volgende geslag het dieselfde tradisie voortgesit…

Die gemeenskap het ernstige vrae gestel in­dien iemand nie by die tradisie ingeval het nie. Maak nie werklik saak of jy ge­reeld in die kerk gekom het , en of jy dalk met ‘n drankprobleem geworstel het nie; álmal het aan die kerk behoort.

Die eredienste was voorspelbaar. Jy het geweet wat gedoen word, en deur wie. Die dominee doen alles, jy sing en staan as hy bid (indien jy ‘n man is) en luister na die preek. En indien jy sou dut, het jy dadelik geweet waar in die erediens jy is wanneer jy wakker word. Want daar was ‘n vaste vorm. Aan die begin van die twintigste eeu het die Pinksterbeweging in Suid-Afrika arriveer, maar min aanhang onder Afrikaanssprekendes geniet omdat dit soveel anders was as die ‘kerk’ waaraan ons gewoond was.

Hoe lyk ‘kerk’ vandag?

Sonder waarskuwing het ‘n nuwe dag aangebreek, saam met die internet en sosiale media, wat die hele wêreld vir almal ontsluit het, selfs al sit jy in die verre platteland. Danksy satellietverbintenis kon jy sien wat regoor die wêreld gebeur. Globalisasie het ook ander vorme van ‘kerk’ in ons lewens gebring.

Jonges bevraagteken godsdiens

Daarmee saam het wat moontlik as die postmoderne denkskuif genoem kan word, veroorsaak dat jongmense krities begin raak het en vir hulleself begin dink het. Hulle is krities oor hulle ouers en hulle ouers se kerk en godsdiensbelewing. Aan die een kant sien hulle hoe jongmense van ander ‘kerk’ hou en aan die ander kant vertrou hulle nie meer die ‘kerk’ van hulle vaders nie, en verveel die erediens met sy vaste vorm en voorgeskrewe psalms en lang uitgerekte preek hulle.

Soeke na ’n nuwe ‘spiritualiteit’

Talle jongmense soek dus na ‘n nuwe ‘spi­ritualiteit’, wat, volgens hulle, ‘vibrant’ en relevant vir die daaglikse lewe is. Terselfdertyd lees hulle hoe sommige teoloë hulle twyfel uitspreek, oor die Bybel as ‘n Goddelik-geïnspireerde boek en of Jesus regtig uit ‘n maagd gebore is en wonderwerke kon doen, of Hy wérklik fisies uit die dood opgestaan het en of Jona deur ‘n vis inge­sluk kon word. Want ons gebruik ‘n wetenskaplike wêreldbeeld wat bepaal dat niks kan gebeur indien dit nie ‘n duidelik aanwysbare oorsaak het nie. Indien daar nié ‘n natuurlike verklaring vir iets is nie, dan kán dit nie wees nie.

Verskeie van dié teoloë verkies ‘n ‘spi­rituele’ weg wat reeds deur die woestynva­ders van die Vierde Eeu en la­ter gedemonstreer is, waar jy in die stilte na God soek, sonder bemiddeling van die Kerk. Jy gaan verby al die geraas in jou wêreld en jou kop om in die sentrum van jou wese jouself  in stilte te ontdek, wat eintlik ‘God’ is.

 ‘Godsdiens’ net ’n naam

‘Godsdiens’ het die naam geword vir wat die kerk doen, en dit word dikwels verbind aan onverdraagsaamheid teenoor ander gods­dienste en andersdenkendes binne dieself­de geloof en teenoor mense wat ‘anders’ as ons norm lyk en optree. Talle jongmense het moed opgegee met ‘godsdiens’ en ‘kerk’ en kies om hulle spirituele behoeftes op ‘n ander wyse aan te spreek.

Dit is waarskynlik so dat jongmense vandag meer bewus is van hulle spiri­tuele behoeftes as vorige geslagte, maar die Kerk bied nie noodwendig meer die antwoord vir hulle nie. Sommige verlaat die kerk so gou moontlik.

Wat staan die Kerk te doen?

Hoe kan die Kerk reageer op die onderskeid wat jongmense tussen ‘godsdiens’ en ‘spiritualiteit’ maak, en die gevolgtrekking dat kerk nie deesdae oor spiritualiteit gaan nie? Dat dit ‘n belangrike, dringende en re­levante vraag is, kan duidelik gesien word in die afnemende tendense wat haas alle tradisionele kerke in lidmaatgetalle beleef. Ek is van mening dat die Kerk kennis sal moet neem dat blote vormgodsdiens nie meer talle jongmense se behoefte aan godsdienstige belewenis vervul nie. Jongmense wil nie meer bloot waarheid geleer word nie; hulle wil waarheid/Waarheid beleef en sien. Die predikant wat leer sonder om te leef wat hy/sy leer, gaan nie meer mense beïndruk nie. Sonder integriteit gaan niemand deur die ‘gesag van die kansel’ beïndruk word nie.

Die belangrikste eis

Aan die einde van die dag is die belang­rikste eis egter dat die Kerk die werklike spirituele behoeftes van jongmense sal moet aanspreek indien dit belangstel om ‘n toekoms in die wêreld te hê.Dit gaan eers gebeur indien die Kerk na die jongmens luister. Ons sal eers die eise en verwagtinge moet verstaan wat die wêreld aan die jongmens stel, en die hart van die jongmens moet snap voordat ons in die taal van die jongmens die behoeftes kan aanspreek wat veroorsaak dat talle van hulle by ander plekke gaan aanklop. Want Jesus Christus bly steeds die antwoord vir jongmense. Indien die Kerk nie die verskil bemiddel wat Hy wil bring nie, is dit nié omdat Jesus nie jongmense se behoeftes kan bevredig nie, maar omdat die Kerk nie kon verander toe dit moes nie en hulle elders moes gaan soek.

Geloof moet uitgeleef word

Wat belangrik is, is dat die Kerk en ouers verlore aansien sal moet herwin deur met integriteit die geloof uit te leef terwyl hulle dit ook eerlik verkondig. ‘n Groot probleem deur alle eeue is dat predikante die geloof in die gemeente verkondig, maar nie altyd by hulle huis toegepas het nie. Dit is een van die redes waarom pastoriekinders soms vervreemd van die kerk geraak het, omdat hulle raakgesien het dat hulle ouers skynheilig is.

Tree met integriteit op

As ouer sal jy eerder moet stilbly as jy nie doen wat jy preek nie. Nou vra jy: “Wie kry dit konsekwent reg om jou geloof uit te leef?” Ek stem saam, niemand van ons is volmaak nie. En ons kinders besef dit ook. Wat nodig is, is dat ons eerlik genoeg moet wees om teenoor hulle te bely dat jy verkeerd was. Dit vra dat ek genade aan my kind bewys as hy/sy ‘n fout gemaak het en berou daaroor toon, omdat ‘n Christen volgens definisie iemand is wat elke dag van genade leef.

Die moderne lewe het gejaagd ge­raak sodat huisgodsdiens uit die mode geraak het. Met êrens kan dit weer herstel word. Wat saak maak, is dat die ouer moeite sal doen daarmee.

Lei jou kind na Hom toe

Die Here gee elke ouer die heerlike voorreg om sy kind na Hom te lei. Indien jy naby jou kind leef en voortdurend in kontak met jou kind se geestelike en emosionele behoeftes is, sal jy verstaan hoe om jou kind na die Here te lei. Begelei hom/haar dan deur elke dag saam stiltetyd te hou as voorbereiding om dit later alleen te kan doen. Jy kan niks meer in jou kind belê as wat in jou is nie.

Terwyl ons kinders op skool met ‘n wetenskaplike wêreldbeeld gekonfronteer word en van die evolusieteorie leer, sal hulle die geleentheid gebruik om die versoenbaarheid daarvan met hulle geloof met hulle geestelike mentors te bespreek. As ouer is jy jou kind se geestelike vader/moeder en mentor en sal jy jou kind deur die drif van twyfel en skeptisisme kan begelei.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)