–deur Daniel Kolenda

Een jong man het ‘n paar maande gelede na my toe gekom. Hy was reeds vir baie jare na God se Wil vir sy lewe op soek, maar het nog steeds geen rigting of antwoord gehad nie.

Ons het langs ‘n uitgepropte elektriese lamp gestaan toe hy vir my sê: “Hoe kan ek agterkom wat God wil hê ek met my lewe moet doen?” Ek het na die prop op die grond gewys en aan hom gevra: “Hoe weet jy waarvoor daardie driepunt-toestel gebruik word? Moet ek dit in my oor druk om beter te hoor of moet ek dit gebruik om my hare mee te kam?” “Natuurlik nie,” was sy onmiddellike antwoord. “Dit moet in die muurprop gedruk word om die elektriese stroom te laat deurvloei!”

WAAR PAS JY IN?

Hoe het hy dit geweet? Op grond van die vorm van die prop. Die prop pas so perfek in die muurprop dat daar nie eers ‘n kwessie is waarvoor dit bedoel is nie. Waar pas jy in? Wanneer jy iets vind wat jou opgewonde maak, wat jou bevredig, wanneer jy iets vind wat vir jou voel asof dit nét vir jou is, is die kanse baie goed dat jy baie naby aan die ontdekking van God se Wil vir jou lewe is.

ONSEKER OOR JOU RIGTING?

Indien jy nog onseker is oor die rigting wat jy moet inslaan, is dit raadsaam om iemand te vind wat reeds in God se Wil beweeg en begin dan om hulle te dien en maak hulle visie joune. Indien jy in daardie persoon se bediening saai, sal jy beslis ‘n roeping van jou eie maai. Toe ek saam met Eerwaarde Bonnke begin werk het, was dit nie as Mede-evangelis nie, maar as sy persoonlike assis­tent. Dit was deur in sy visie te deel dat ek ‘n passie ontwikkel het om siele te red. Dit was eers toé dat ek my moontlik­hede in God besef het. My posisie as dienaar het my ge­plaas waar ek die mantel van my eie roeping kon ontvang. Een ou heer het aan my gesê: “Ek het die begeerte om ‘n gebedsbediening te begin wat 24 uur per dag, sewe dae per week en 365 dae per jaar sal aanhou.” Hy was vol drome, maar het nie die vaagste idee gehad hoe om daar uit te kom nie. My raad was dat hy eenvoudig moes begin: een aand per week. Indien dit teveel is, doen dan net een aand per maand.

NEEM DIE EERSTE TREE

Die sleutel is om in die rigting van jou roeping te begin beweeg. Geen persoon by sy volle verstand sal by ‘n groen verkeerslig geparkeer bly staan nie. En tog bly soveel mense in die park sit omdat al die deure nog nie vir hulle oopgegaan het en hulle nie so duidelik kan sien hoe dinge moet uitwerk nie. God het vir Moses gevra: “Wat is in jou hand?” Hy vra ons dikwels dieselfde vraag: wat is reg voor jou? Doen wat jy kán, gee die eerste tree. Indien jy getrou is, sal God jou met meer vertrou.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)