-deur Stephan Joubert

“Moenie ’n struikelblok vir die swakkes wees nie.” So skryf Paulus in 1 Korintiërs 8:9 wanneer plaaslike Christene wonder of hulle vleis mag eet wat aan afgode gewy is. In antieke stede soos Korinte is vleis wat op die markte verkoop is, dikwels vooraf aan afgode gewy. Ook was dit gebruiklik dat mense hulle vriende kon saamnooi na etes ter ere van hulle gode in tempels. “Mag jy sulke vleis eet, en mag jy uitnodigings na hulle tempels toe aanvaar?” was vrae wat in gelowiges se harte geleef het. Paulus moes help. Toe sê hy in beginsel, “Ja”. Sy rede is duidelik – daardie afgode is morsdood. Daar is net een ware God (8:4-6).

Alles tot Sy eer
Later in 1 Korintiërs 10:25 sê Paulus nogmaals vir gelowiges hulle mag vleis eet wat op die markte verkoop word en in vers 2 tot 29 sê hy vir hulle om alles te eet wat voorgesit word wanneer ongelowiges hulle vir ete uitnooi (tensy daardie ongelowiges se gewete hulle hieroor pla!). Paulus weier dat die Evangelie vasval in kosgebruike. God het alles – insluitend kos – gemaak om tot Sy eer gebruik te word. Dus, of ons eet of drink, ons doen dit alles tot Sy eer (1 Kor 10:31).

Die verskil in Korintiërs en Romeine in tekste oor voedsel
Paulus gee egter nog een tree verder in sy antwoord: Christene is vry om te eet…mits dit nie swakker gelowiges sal aanstoot gee nie. Hy is bewus van ‘swakker’ en ‘sterker’ gelowiges wat oor verskillende vlakke van geloofskennis beskik. Hierdie groepe is ook in Romeine 14 aanwesig wanneer Paulus later weer oor kosgebruike skryf. Tog is daar ’n tegniese verskil tussen 1 Korintiërs 8 en Romeine 14. Romeine 14:1-15:6 handel oor onrein kos (wat ’n sleutelkwessie vir Jode was), terwyl 1 Korintiērs 8 handel oor kos wat aan afgode gewy is. Gevolglik was die verskille in Rome intern tussen gelowi-ges, maar in Korinte het dit reeds verhoudings tussen gelowiges en nie-gelowiges geraak. In Romeine 14 is mense se geloof ook ter sprake, terwyl Korintiërs 8 en 10 handel oor mense se gewete wat gebind word, al dan nie.

Ons vryheid mag mekaar nooit laat struikel nie
Paulus verduidelik naamlik in al hierdie tekste, al is die afgode dood, dit nie beteken gelowiges kan goedsmoeds in hulle tempels gaan eet soos hulle wil nie. Diegene wat nog nie oor die regte kennis beskik nie, se geloof kan deur sulke gedrag geskud word. Kos is nie sulke skokke, of skeurings in die Kerk werd nie. Opbou is die kern van geloof, nie eet en drink nie (1 Kor 8:1-3, 7-13 en Rom 14:13-17). Ongetwyfeld is Christene vry van dooie wette en tradisies, maar dan mag hulle vryheid mekaar nooit laat struikel nie.

Pas Paulus se woorde korrek toe
Is Paulus se opmerkings oor die sterkes en die swakkes algemene roeteaanwysers wanneer morele vrae vandag in die Kerk ter sprake is? Ja, maar…ja, want God se Woord is universeel en orals geldig…maar dan moet dit reg toegepas word. Paulus is in 1 Korintiërs 8 en 10, asook in Romeine 14 met baie spesifieke sake besig, naamlik, die eet van onrein kos en afgodsvleis. Slegs hier verwag hy in agneming van swakkes se standpunt. Nêrens elders waar Paulus aandag skenk aan probleme van enige ander aard, neem hy ooit weer swakker gelowiges se argument in aanmerking nie. Hierdie argument van die sterkes en die swakkes is erg in die 18de eeu in die NG Kerk misbruik toe anderskleuriges nie toegelaat is om saam nagmaal te hou nie en hulle uiteindelik ’n aparte kerk moes vorm. Sogenaamde ‘swakker’ wit gelowiges wou eenvoudig nie saam met bruin gelowiges nagmaal vier nie, en het toe hierdie einste tekste as motivering gebruik. Dít is hoegenaamd nie wat Paulus met in agneming van die swakkes se standpunt bedoel het nie. Hy gee glad nie hier ’n carte blanche aan onkundige gelowiges om altyd en orals in die Kerk ‘the weakest link’ te wees wat uiteindelik die res van die Kerk op elke punt gevange hou nie. Nooit mag gelowiges hulle op 1 Korintiërs 8 en 10, óf op Romeine 14 beroep om diegene wat met hulle verskil oor enigiets, vanaf rassisme tot die inrigting van eredienste, te dwing om hulle eie ‘swak’ standpunt te ondersteun, of om hulle te laat skuldig voel nie. In dié geval verander daardie swakkes inderwaarheid in die sterkes en die liefdeloses. Wanneer gelowiges vandag nie weet wat die antwoord is nie, ondersoek hulle die Skrifte op die regte manier, en vertrou hulle die Heilige Gees vir leiding. Geloofsopbou en om voorsiening vir mekaar se standpunt te maak, wen steeds in sulke tye, nie teks-misbruik nie.


Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)