–deur Angus Buchan

Indien jy my sou vra om my pad saam met die Here oor die afgelope aantal jaar in een sin op te som, sou ek sê: ‘God eer altyd geloof!’ Dit is my ervaring oor die afgelope jare waarin ek deur baie toetse en beproewings gegaan het. Maar God het nog altyd elke geloofstree wat ek gegee het, geëer – nie enige veronderstelling nie, maar geloof!

Geloof het voete

Geloof is ’n aksie – dit het voete! Indien ons na Joh 14:21 kyk, lees ons: “Wie My opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal My Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.” Wanneer ons gehoorsame kinders van God word, begin God Sy Woord in ons lewens eer. Joh 14:14 sê baie duidelik: “As julle enigiets in My Naam vra, sal ek dit beslis doen.” Dit is ’n baie belangrike stelling en ek het dit al selfs in my eie lewe ondervind. Daar is egter ’n voorwaarde in vers 15 – “As julle My liefhet, sal julle My opdragte gehoorsaam.”

Nie ‘skuim en borrels’ nie

Die kern van die hele saak is egter as jy as magtige man of vrou van God wil leef, moet jy ’n lewe van gehoorsaamheid aan Hom leef. ’n Christen se lewe is beslis nie oor ‘skuim en borrels’, ‘noem en doen’ of bloot iets uit die lug gegryp nie. Dit is juis hoekom die Here Smith Wigglesworth, die ou meester-loodgieter van Yorkshire, Engeland, so effektief kon gebruik. Hy het presies gedoen wat God gevra het – niks meer en niks minder nie! Sy gunsteling-sêding was: “God said it, I believe it, and that settles it!”

Meer as 100 preke werd

Indien jy wil hê God moet dinge in jou lewe laat gebeur en jy wil in geloof groei, moet jy aan God gehoorsaam wees. Toe Jesus Petrus beveel het om op die water te loop, was dit ’n bevel. Al die dissipels kon uit die boot geklim en op die water geloop het, maar net Petrus was gehoorsaam.

Bonhoeffer het ook gesê: “Een handeling in gehoorsaamheid is meer as honderd preke werd,” en ook “Net hy wat glo, is gehoorsaam en net hy wat gehoorsaam is, glo.” Kragtige woorde!

Gehoorsaamheid in aksie

Gehoorsaamheid is ’n deug – ’n deug van die ‘Kruis-soldate’. Gehoorsaamheid is dus sonder enige twyfel geloof in aksie. Dit is so maklik om oor geloof te praat, om groot verduidelikings en verklarings van geloof te gee, maar uiteindelik dui alles op die kern : Is jy bereid om God gehoorsaam te wees as Hy jou roep? Onthou – geloof is dit waarop ons hoop, die dinge wat ons nie nou kan sien nie. Abraham was die enigste man in die Bybel wat deur God “Hy is My vriend,” Jak 2:23, genoem is. Hoekom? Want hy was gehoorsaam! Hy was nie so ’n besonder goeie man nie, ons lees dan hy het sy vrou Sara twee maal opgeoffer om sy eie lewe te red! Ek dink nie enige man met selfrespek sal dit doen nie, maar tog was Abraham God se vriend. Toe God Abraham aangesê het om sy land te verlaat, en terloops, hy was ’n baie ryk landbouer, om na ’n onbekende land te trek, het hy dit gedoen.

Gehoorsaam soos Abraham

Abraham het God ook vir ’n seun vertrou en het dit eers gekry toe hy 100 jaar oud was – sy hartsbegeerte – Isak! Hy was selfs bereid om sy dertienjarige seun te offer. Die Here was so geraak deur Abraham se gehoorsaamheid dat Hy Abraham beloof het om, deur sy nageslag, alle nasies te seën. (Gen 22:18).

Wanneer jy die bevele en opdragte van die Tien Gebooie asook Jesus se opdrag dat ons mekaar moet liefhê soos Christus ons liefgehad het, nakom, sal jy outomaties ’n man of vrou van groot geloof word. En as ons nog nooit geloof nodig gehad het nie, het ons dit juis nou nodig! Ons behoort te­rug te keer na die grondbeginsels – hou dit eenvoudig en God sal vir die res sorg.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)