–deur Heleen Delport

Oor die naweek maak ek ʼn draai by vriende en ek en my vriendin raak aan die gesels. Die eerste halfuur bymekaar klink dit seker vir almal in die omtrek soos ’n hoenderhok met ʼn klomp kekkelende henne soos ek en sy gesels om mekaar op hoogte te bring van alles wat gebeur het in die tyd sedertdien ons mekaar laas gesien het.

Sy spring ewe skielik op en sê haar broodjies brand. Sy het Deeghuis-rolletjies in die oond gesit om saam met middagete te geniet en natuurlik daarvan vergeet. Jy kan jou voorstel hoe hulle gelyk het as sy dit deur haar verkoue se toe neus kon ruik!

Vies stap sy die vertrek binne en bevestig wat ons almal reeds weet. Haar man het haar net ’n ek-het-jou-mos-gesê-kyk met ʼn stoute glimlag gegee, opgestaan, haar in sy arms toegevou en haar gesoen. In daardie oomblik het ek hulle liefde vir mekaar raakgesien. Dit was ʼn pragtige oomblik.

Almal van ons brand die een of ander tyd broodjies. My vraag is, hoe hanteer jy dit?

Ek wil jou herinner aan 1 Korintiërs 13, die bekende gedeelte in die Bybel wat handel oor die liefde. Dit sê: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie.”

 Ek weet gebrande broodjies kan nie altyd met ʼn glimlag en ʼn druk en ʼn soen gered word nie. Onthou net, Jesus is liefde en omdat die Heilige Gees in ons woon, is ons ook liefde. Op watter ander liefdevolle manier kan jy verby jou gebrande broodjies kyk, as ʼn glimlag en ʼn druk en ʼn soen dit nie kan regmaak nie?


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)