– deur Hendrik Cloete

Kanker is ’n boodskap van jou liggaam aan jou. Dit kommunikeer dat iets wat jy doen of nié doen nie, nie bevorderlik is vir jou gesondheid nie. Kanker moenie as ’n doodsvonnis beskou word nie. 

Deesdae is dit nie meer ongewoon om ’n kankerpasiënt te wees nie. My ervaring is dus beslis nie uniek nie. Dit is egter met nederige dankbaarheid dat ek vertel hoe ek hierdie vyand oorwin het. 

’n Swart nael
Ek is met kanker gediagnoseer toe ’n swart wysvingernael eintlik ’n kwaadaardige groeisel in die naelbed was. Vyf jaar tevore het ’n dun swart lyntjie op my nael verskyn en dit het groter geword totdat die hele nael later swart was. Dit het my nie eintlik gepla nie. Toe ek my nael op ’n bouterrein beseer, het die dokter dit verwyder en sommer ook weefsel weggestuur vir ’n biopsie. Dit het getoon dat ek ’n kwaadaardige melanoom het, die vinger is geamputeer en ook vir ontleding weg-
gestuur. Die resultate het getoon dat die kanker nie verder as die basis van my vinger versprei het nie. Die onkoloog het gesê ek is ’n gelukkige kêrel en hoef my nie te bekommer nie.

Kwaadaardige gewas
Sewe jaar later het ’n X-straal van my borskas vir ’n werkpermit in Nieu-Seeland ’n groeisel in my linkerlong getoon. Ons het ons terug-gehaas na Suid-Afrika, waar ’n liggaamskandering verskeie aangetaste limfknoppe in die bors en buik aangedui het, afgesien van die groeisel in die long, wat waarskynlik ’n ontwikkelende gewas was. Die diagnose was ’n stadium IV-kwaadaardige melanoom met metastase. Die dokter wou dadelik met behandeling begin.
Konvensionele behandeling behels chemoterapie, bestraling en chirurgie, of kombinasies daarvan. Chemoterapie is egter nie regtig suksesvol vir ’n melanoom wat reeds begin versprei het nie. Bestraling was ook nie ’n opsie nie omdat die grootste aangetaste limfknop te na aan my hart was. Chirurgie was buite die kwessie – die hart- en borskas-chirurg het gesê “as dit ’n kwaadaardige melanoom is, sal ek nie daaraan raak nie”. Die kans dat dit verder kon versprei, was net te groot.

Alternatiewe behandelings die enigste hoop
Ons het min van alternatiewe behandelings geweet, maar Theresa, my vrou, het vermoed dit sal ’n supergesonde dieet en leefstyl behels. Johan Jacobs van Go Natural, wat later ’n goeie vriend geword het, het ons gehelp om ’n doeltreffende alternatiewe roete te vind. Hy het ons ook bekend gestel aan die kundigheid van dr. Lorraine Day, ’n ortopediese traumachirurg en medeprofessor aan die Mediese Skool van Kalifornië. Sy is met gevorderde borskanker gediagnoseer en het chirurgie ondergaan, maar enige verdere behandeling geweier. Toe sy begin met ’n intensiewe organiese rougroentesapdieet het dinge stadig begin verander. Sy het voortgegaan met haar gesonde leefstyl en het heeltemal herstel.

Organiese groentedieet
Ons het na ’n organiese groentedieet oorgeskakel – 75 persent rou sap en slaaie en 25 persent gestoomde of liggekookte groente om my immuunstelsel te versterk. Die aktiewe bestanddeel in die sap is karoteen, wat kanker bestry. Gereelde bloedtoetse het be-
vestig dat die behandeling werk. Ongeveer ses maande nadat ons met die dieetbehandeling begin het, het ’n skandering getoon alles is dieselfde as met die vorige skande-rings. Dit was goeie nuus – daar was geen agteruitgang nie.

Nog werk was nodig vir verbetering
Die dieet het my immuunstelsel versterk, maar meer was nodig. Nog ’n liewe vriend, Irma Stanley-Best, wie se man ’n soortgelyke diagnose gehad en herstel het, het ons na nog betroubare bronne verwys: Die Bill Henderson-protokol en die dr. Budwig-protokol. Die Bill Henderson-protokol behels ’n intensiewe leefstylaanpassing en dieet vir kankerpasiënte. Dit was uitdagend, maar die volgende stel skanderings het ’n duidelike verbetering in my toestand getoon. Sommige van die aangetaste limfknoppe en die gewas in die long was kleiner. 

Praktiese moets en moenies
Uit die Bill Henderson-protokol het ons geleer dat wat jy nié doen nie, net so belang-
rik is as wat jy doen. Kankerpasiënte moet suiker ten alle koste vermy omdat kankerselle op suiker floreer. Produkte met wit meel verander in ’n vorm van suiker tydens vertering. Afhangende van die erns van jou siekte moet alle vleis, veral rooivleis, vermy word omdat dit die suurvlak van jou bloed verhoog, die ideale medium vir kankerselle. Dit is ook belangrik om genoeg suiwer gefiltreerde of gedistilleerde water te drink. Kraanwater vol chemikalieë word nie aanbeveel nie.
Dit is noodsaaklik om amalgaamstopsels (silwer stopsels) vol kwik te laat verwyder as jy met kanker of enige ander lewensbedreigende siekte gediagnoseer is. Dit moet deur ’n tandarts gedoen word wat vertroud is met die prosedure en voorsorgmaatreëls. Matige oefening is goed as jy dit kan doen. Dit stimuleer die limfstelsel om gifstowwe, insluitende dooie kankerselle, uit te skei. Blootstelling aan sonlig is ook nodig. Dit is die beste vitamien D wat jy kan kry.
Die grootste struikelblok is jou denke. Jy moet ingewortelde eet- en leefstylgewoontes verander en daarby hou; dit is die sleutel tot jou herstel. Jy sal maai wat jy saai – ten goede of ten kwade. Jou emosies en ingesteldheid speel ook ’n groot rol. Positiewe mense herstel vinniger en behaal beter resultate. Raak ontslae van emosionele bagasie en stres. Bly geestelik sterk. Waardeer jou geliefdes en vriende. Wees dankbaar.
Wanneer jy met kanker gediagnoseer word, is dit normaal om ontsteld te wees. Dit raak ook die mense naaste aan jou. Jy het kalm, nugter mense nodig wat vir jou omgee, as jou raadgewer en “advokaat” kan optree en jou voortdurend ondersteun. Ek het kanker oorwin omdat ek geliefdes het wat ten volle betrokke was. Theresa het my deur al die jare
bygestaan.

’n Lewende bewys
Ek wil nie aan ander kankerpasiënte voorskryf wat hulle moet doen nie. Ek is net ’n lewende bewys dat dit moontlik is om ’n ernstige kanker sonder konvensionele behandeling te oorkom. Ek is vandag 78 en geniet meer as 18 jaar sedert die eerste diagnose ’n normale en gesonde lewe. Om werklik gesond en vol ener-gie te wees, is ’n groot seën. Ja, ek is sonder ’n wysvinger, my limfknoppe is verwyder en my linkerstemband is permanent verlam weens ’n limfknop in my bors wat die senuwee na die stemband beskadig het. My spraak is aan-getas, maar ek kan praat. Ek is alternatiewe behandelings ewig dankbaar, ook die mense wat hierdie kennis onverpoosd deel om die lot van kankerpasiënte te verlig ondanks dreigemente en selfs moontlike vervolging.

HENDRIK CLOETE is in 2001 met kanker gediag-noseer en het dit met alternatiewe behandelings oorwin. Hy woon tans in Nieu-Seeland. Lees sy vol-ledige getuienis by gonatural.co.za/testimonies


JUIG! Tydskrif (Augustus 2018)

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)