–deur Toi Nell

Anders as met graan, is druiwe nie noodsaaklik vir menslike oorlewing nie. Maar, so lees ons in Prediker, die sap van die druif maak mense gelukkig (Pred 10:19) en harte bly (Ps 104:15).

Oorsprong van druiwe

Botaniste reken die oorsprong van die druiwe van die Middellandse See-gebied is ie­wers tussen die heuwels van Armenië.  In die vroegste geskiedenis word selfs vertel hoe die Egiptenare wyn van baie hoë gehalte vanaf Kanaän ingevoer het. Ons lees dat die wingerdplant van die eerste plante was wat Noag na die groot vloed in die grond gesit het – lees gerus maar die geskiedenis in Genesis. Israel geniet al die voordele van die win­gerd-vriendelike klimaat van die Middellandse See-gebied. Selfs wanneer druiwe nog nie reg is vir die oes nie en maar klein en suur is (dit staan in Israel bekend as ‘boser’), word dit in die Bybel genoem. Dit is die ‘groen’ of ‘suur’ druiwe waarvan ons in Eseg 18:2 en Jer 31:29-30 lees.

Die kweek van druiwe

Daar word beraam dat sowat 65 miljoen metrieke ton druiwe in die warm, gematigde lande regoor die wêreld gekweek word. Van die bekendste en toonaangewendste druiwelande is Frankryk, Spanje, Duitsland, Portugal, Argentinië  en  Suid-Afrika. Dit kan  ook as tafel- wyn- of rosyndruiwe geklassifiseer word.

Tydsberekening kardinaal

Die tydsberekening vir die oes is baie be­langrik omdat dit die suikerinhoud beïn­vloed. Word dit te vroeg gepluk, is daar nie genoeg suiker om dit smaaklik (in die geval van tafeldruiwe) te maak nie of om goeie wyn (as van wyndruiwe gepraat word) te kan produseer nie. Boere verkies vandag nog om met die hand te oes omdat ma­sjiene die druiwe kan beskadig.

Wyn en wynmaakprosesse

Die oudste verwysings na wyn dateer sowat 5 000 jaar gelede. Skilderye wat in Egiptiese grafkelders gevind is, toon mense wat druiwe pluk, pars en wyn in kleikruike bewaar. Die antieke Grieke en Romeine was baie lief vir wyn en het selfs aan ’n wyngod geglo. Die Romeine het selfs soveel druiwe gekweek dat daar in ’n stadium ’n tekort aan graan in die land was en die keiser ’n dekreet moes uitvaardig wat mense gedwing het om hul win­gerde met ander gewasse te vervang.

Tydens die Middeleeue het die produksie van wyn egter afgeneem, maar in die 1500’s het die Europese ontdekkingsrei­sigers en setlaars die hele wynmaakpraktyk na die ‘nuwe wêreld’ gebring.

Na raming word ’n verstommende 53 miljoen metrieke ton druiwe jaarlikse regoor die wêreld geoes net vir wynmaakdoel­eindes.

Kennis nodig vir gehalte

Die hele wynmaakproses bestaan uit ’n aantal stappe en om wyn van gehalte te maak, is baie kennis beslis noodsaaklik. Kortliks behels dit die volgende:

Die druiwe word per masjien van die stingels geskei en dan gepars. Die geparste druiwe en die sap word ‘mos’ genoem. Die kritieke stap is wanneer die sap van die doppe en pitte geskei word en in die gistingstenk gegooi word.

Gisting het in die verlede altyd in houtvate geskied en die pro­ses is bewerkstellig deur gisstowwe wat natuurlik op druiwedoppe voorkom. Deesdae word vate wat met glas uitgevoer is of tenks van vlekvrye staal gebruik. Daar word deesdae selfs spesiale gisstowwe by die sap of mos gevoeg om die hele proses aan die gang te kry.

Indien die verouderingsproses in ’n tradisionele houtvat geskied, gee dit ’n spesiale, eie geur aan die wyn.

Nadat dit vir ’n geskikte tyd verouder is, word dit gebottel en gekurk. Binne die bottel duur die verouderingsproses stadig voort.

Die simboliek van wyn in die Bybel

Dit maak nie saak hoeveel vaardighede die boer in Bybelse tye gehad het nie, hierdie uiters arbeidsintensiewe boerdery se eerste druiwe­trosse is eers na vyf jaar gevorm. In Bybelse tye was dit nie iets wat trekboere kon doen nie, dit was ’n soort boerdery wat net deur gevestigde boere gedoen kon word – in Jeremia 35:7 belig Jeremia die feit baie deeglik.

Juis omdat dit so lank geneem het om te groei en vrug te dra, is die druif en die kweek daarvan die simbool vir vrede. Lees net in 1 Kon 4:25 hoe vredevolle dae beskryf word. Tydens die beleg van Jerusalem toe die Assiriërs die inwoners wou uitlok om oor te gee, is hulle wyn, die top vredesoffer, aangebied (2 Kon 18:32).

Aan die ander kant is die eerste, klein vruggies wat vir die seisoen verskyn – uiters suur en met ’n onaangename smaak –’n simbool van sonde. (Jer 31:29-30 en Eseg 18:2).

Gesondheids- en voedingswaarde

Druiwe is ryk aan vitamine en minerale, o.a. vitamien K wat noodsaaklik vir normatiewe bloedstolling is, vitamiene B wat noodsaaklik vir optimale selfunksionering is asook potassium en kalsium. Beide laasgenoemde is belangrik vir die oordra van senu-impulse en om die senu­stelsel gesond te hou. Druiwe is ryk aan anti-oksidante wat, soos navor­sing reeds aan die lig gebring het, die liggaam teen verskeie vorms van kanker be­skerm. Druiwe bevat resveratol wat cholesterolvlakke beheer.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)